GEORGE NUUS - Inwoners van Welgelegen Estate het onlangs eerstehands die geleentheid gekry om antwoorde op hul vrae van Leon van Wyk George se burgemeester en raadslede te kry.
By dit alles was daar van die stadsraadslede se kant 'n onderneming dat van die uitdagings aandag sal kry.
Diensleweringskwessies soos die Welgelegen-pompstasie en Kraaibosch-watertoringkwessies was hoog op die agenda en is onder die vergrootglas geplaas.
Benewens Van Wyk was Marais Kruger en Johan Stander (beide lede van die burgemeesterskomitee), Marlene Barnardt, hoofsweep van die raad, en Erika Brown en Donovan Gultig (beide raadslede) en Granville Shenker, voorsitter van Welgelegen-inwonersvereniging ook teenwoordig.
Dr. Francois Joubert, 'n inwoner, het by navraag gesê die vergadering is in oorleg met Marais Kruger, raadslid vir wyk 22 gereël. Hy het benadruk dit was a-polities.
Joubert is 'n lid van wyk 22 se wykskomitee. Die vergadering het op Dinsdag 24 Oktober in 'n goeie atmosfeer plaasgevind. Verskeie sake is bespreek, onder andere stemregistrasienavrae wat belangrik is in die lig van volgende jaar se algemene verkiesing.
Joubert het Woensdag 8 November gesê Welgelegen-pompstasie het in die onlangse verlede tydens swaar reën oorgeloop met gevolglike skade aan Welgelegen Estate infrastruktuur. Voorts ook erosie aan die Modderrugrivieroewer.
"Die herstel van die sake word tans deur die munisipaliteit aangespreek. Die Kraaibosch-watertoring ondervind met tye lae water-vlakke wat soms waterdruk in die area affekteer. Die munisipaliteit ondersoek tans permanente oplossings vir die uitdaging."
Volgens Joubert is groot dank tydens die vergadering ook uitgespreek vir die feit dat die stadsraad diens van hoogstaande kwaliteit lewer en te alle tye in die beste belang van alle inwoners optree.
Joubert glo dit is belangrik dat daar interaksie tussen inwoners en die openbare verkose verteenwoordigers moet plaasvind.
Van links is Erika Brown, Annadi Deysel, (bestuurder verswakte afdeling Welgelegen), Marais Kruger, dr. Francois Joubert, Johan Stander, Leon van Wyk, Donovan Gultig, Marlene Barnardt en Granville Shenker.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’