GEORGE NUUS - Wat is nou beter en aangenamer as heerlike braaivleis en mooi musiek. Daarvan kon inwoners van Tuiniqua-versorgingsentrum op Saterdag 14 April getuig toe die George Vryburgers vleis by die sentrum gebraai het.
Dit was deel van 'n nasionale projek van die Vryburgers en 'n uitreikaksie, die Tamaaibraai wat jaarliks aangebied word.
Benewens Tuiniqua is ook vleis gebraai by ACVV Harmonie, Thuys Jacobs Hoekwil, Rosemoor, JJ Watson en Bergville. Daar is vleis vir sowat 700 mense gebraai.
Hildred Basset, die basuin (woordvoerder) van die George Vryburgers, het Maandag 17 April gesê vanjaar is vleis landwyd deur die verskillende korpse gebraai vir 3 521 mense. Dit het ingesluit 40 instansies soos tehuise vir bejaardes en kinderhuise.
Dit is vanjaar uitgebrei om op sommige plekke ook voorsiening te maak vir kinderhuise.
Vleis word Saterdag by Tuiniqua-versorgingsentrum gebraai.
Altesaam 359 kg-skaaptjops, 12 kg-varktjops, 296 kg-wors, 215 kg-hoendersosaties, 58 kg-skaappotjies en 179 kg-hoenderporsies is gaargemaak.
Volgens hom was dit 'n groot sukses. In George het die fondse vir die geleentheid uit die sak van die korps gekom. Minstens 14 lede was betrokke by die braai van die vleis en die reëlings.
"Ons het baie positiewe terugvoering ontvang. Mense sien gewoonlik baie uit daarna en ons het reeds mense gehad wat aangedui het hulle nie kan wag vir volgende jaar nie."
Volgens hom gaan dit oor baie meer as net vleisbraai. "Dit is vir ons ook 'n geleentheid om vir mense te wys daar is mense wat vir hulle omgee. Die doel is om iets terug te gee vir die gemeenskap."
Die George Vryburgers is reeds betrokke by 'n projek, Kos vir kinders, waar elke skooldag kos vir kinders verskaf word.
Vleis word Saterdag by Tuiniqua-versorgingsentrum gebraai.
Vanjaar is besluit om nog 'n tehuis vir bejaardes, Bergville, te betrek.
Alani Voigt, sentrumhoof van Tuiniqua, het gesê dis elke jaar 'n hoogtepunt. Die inwoners sien elke jaar baie uit daarna. Naweke kan baie lank raak. Dit breek die tyd as mense so kan saamkuier.
"Ons is dankbaar teenoor die Vryburgers. Van die inwoners het vir ons gesê die vleis wat gebraai is was van buitengewoon hoë gehalte."
Annelie Bennett, dienssentrumkoördineerder van Tuiniqua, het gesê die geleentheid was 'n groot sukses. "Dit was waarskynlik die beste Tamaaibraai wat ons ooit gehad het. Die groot deelname van inwoners bewys dat dit 'n sukses was. Die inwoners is verskriklik dankbaar teenoor die Vryburgers."
Vleis word Saterdag by Tuiniqua-versorgingsentrum gebraai, terwyl mooi musiek gemaak word.
Daar was ook versnapperinge beskikbaar om te geniet. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’