Gallery
GEORGE NUUS - Die tuin aan die westekant van die NG Moedergemeente George spog met 'n nuwe eikeboom. Maar dis nie sommer net 'n boom nie, dit het 'n lang aanloop.
Die boom is Sondagoggend, 21 Augustus, na die erediens geplant. Dr. Steve van der Walt, 'n leraar van die gemeente, is bygestaan deur verskeie mense wat die diens bygewoon het. Onder hulle was ook van die jonger garde wat gehelp het om die boom te plant.
Die besondere geleentheid kon plaasvind danksy die oplettendheid van 'n inwoner, Allison Holiday wat in April 2017, twaalf akkers van 'n geskiedkundige boom op die kerkterrein opgetel en geplant het. Slegs twee het dit egter gemaak. Min het sy toe geweet wat uiteindelik sou gebeur.
Die geskiedkundige boom is reeds in 1884 geplant, maar is 'n paar jaar gelede deur die stompkopkewer en sy simbiotiese swam aangeval. Dit moes toe uiteindelik in 2020 afgekap word.
Holiday het van die boompies, wat uit ontkieming van die akkers ontstaan het, aan die kerk geskenk. Dis een van hierdie boompies wat Sondag geplant is.
Van der Walt het Sondag gesê daar is dankbaarheid vir die Here wat die boompies op 'n besonderse wyse gegee het. Hy het Holiday ook bedank vir haar rol. "Hier is ons met nuwe lewe. Dis ook 'n boodskap van hoop in die Covid-tyd. Mag ons altyd weet die Here is by ons en ons groei omdat hy dit moontlik maak."
Gemeentelede help om die boom te plant.
Simboliek
Hy het na die simboliek van die akkers en die boompies verwys en gesê die Israeliete was vir 40 jaar in die woestyn nadat hulle uit Egipte getrek het. Die Here het hulle na die beloofde land Kanaän gelei. Na 40 jaar, net voordat hulle die nuwe land sou ingaan, wou hulle eers weet hoe lyk die land.
Moses het 12 verspieders gestuur om eers te gaan kyk hoe dit daar is. Toe hulle terugkom was 10 van die 12 baie benoud en het gesê die mense daar is te groot en hulle sal nie die land kan inneem nie. Twee van die verspieders, Joshua en Kaleb, was egter baie positief.
FOTOGALERY: Nuwe eikeboom by NG Moedergemeente George
Hulle het nie in mense vasgekyk nie, maar het die groot druiwetrosse, vrugte en goeie grond gesien.
Hulle het geglo die Here sal hulle help. Die twee boompies wat dit gemaak het, is die twee verspieders wat positief was. (Holiday het ook 12 akkers opgetel en 10 het dit nie gemaak nie.)
Volgens Van der Walt is dit 'n boom van hoop in moeilike uitdagende tye.
Gemeentelede Sondag tydens die boomplantseremonie. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'