TUINROETE | KAROO NUUS - Bingo, die skaaphond wat gister vermis geraak het, is gevind.
Yolandé Maré het vanmiddag bevestig dat die hond net buite Oudtshoorn aan George se kant gevind is.
"Die hond het gisteraand op 'n perseel van Harry Coetzee aangekom. Hy het egter nie besef die hond is soek nie en ons eers vandag laat weet dat hy moontlik weet waar ons hond is toe hy die berigte op Facebook gesien het.
"Hy is terug na die perseel waar Bingo gisteraand aangekom het en hy was toe steeds daar. Gelukkig het Harry vir hom kos en water gegee. Hy het vir ons foto's gestuur en toe weet ons dis ons hond.
"Ons het deurgery Oudtshoorn [toe] om Bingo te gaan haal. Ons moes hom wel veearts toe neem want dit lyk of hy van die bakkie afgeval het. Hy het gelukkig nie ernstig seer gekry nie."
Maré sê die hele gesin is bly dat Bingo by die huis is en hy het klaar op die gras gaan rol van blydskap.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'