GEORGE NUUS - 'n 35-jarige man van Pacaltsdorp, Johannes James Micheals, is verlede Saterdag oorlede nadat die bestuurder van die motor waarin hy 'n passasier was, beheer oor sy voertuig verloor het.
Die bestuurder, 'n korrektiewe beampte by die George-tronk, was na bewering onder die invloed van alkohol en is op die toneel in hegtenis geneem. Die bestuurder wat van diens af was tydens die ongeluk, het nie vandeesweek in die hof verskyn nie.
Die saak is tydelik van die hofrol verwyder vir verdere ondersoek. Die ongeluk het omstreeks 17:15 op die N9 naby Louvain-gasteplaas se afdraai, in die omgewing van Herold, plaasgevind.
Die bestuurder van 'n rooi Toyota-motor het na bewering deur 'n stop-en-ry stelsel by padwerke gery en beheer oor die voertuig verloor. Die motor het gerol en Micheals is uit die voertuig geslinger. Hy het op die toneel gesterf.
Die polisie het vandeesweek bevestig dat bloedmonsters vir die alkoholvlak geneem is en dat hulle benewens die saak van strafbare manslag ook 'n klag van dronkbestuur teen die bestuurder ondersoek.
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'