GEORGE NUUS - Margaret Manevil het 'n sagte plekkie vir bejaardes. Vir die afgelope ses jaar sorg sy dat 'n klomp bejaardes in haar omgewing in Conville vyf dae van die week 'n bord gekookte kos kry.
"Dit is veral wanneer die Allpay teen die einde van die maand opraak dat die getalle wat kom eet, toeneem. Ons het ongeveer 40 bejaardes wat so gehelp word." Ander honger mense kom ook aanklop. Sy sê hulle het 273 mense op die boeke.
Die organisasie Illita Labantu en die departement van sosiale ontwikkeling ondersteun die projek. Dit het Manevil in staat gestel om 'n geboutjie agter haar huis in 'n klein kombuis en eetkamer met twee tafels te omskep waar 'n klompie mense kan aansit. Drie kokke berei die etes voor.
Op Valentynsdag het hulle 'n spesiale Valentynsete vir 50 mense aangebied. Daar was nie naastenby genoeg sitplek vir almal nie, maar dit het nie saak gemaak nie, want die kos was heerlik.
Die kokke wat lekker etes aanmekaar kan slaan, is van links: Samantha Arends, Leonie Pietersen en Maria Juries. Foto's: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'