‘n Pimpel-en-pers en erg getraumatiseerde mev. Maria Botha (85) herstel nog van skok nadat sy vir haar lewe geveg het. Sy was ten aanskoue van die hele straat op pad om toiletpapier in haar gastekamer te sit - wat apart en reg langs haar huis staan - toe ‘n jong man by haar lae tuinhekkie ingestap het.
"Ek is by die gastekamer, wat se deur na die straat toe oopmaak, in maar toe ek omdraai staan die jongman reeds in die deur. Hy het al hoe nader gekom," vertel sy.
"Laat my verby kom! Wat wil jy hê?" wou sy benoud by hom weet toe hy aggressief nader bly tree. Hy het haar gegryp en begin wurg. Sy het gegil en ’n pot gegryp om haarself mee te verdedig, maar hy het dit by haar afgevat.
"Hy het my opnuut beetgekry en my gewurg dat my valstande op die teëls geval het."
Iewers kry die bejaarde dame dit toe wel reg om uit haar aanvaller se greep los te kom en hardloop na die onderste venster wat oop was. Hy het die deur agter hom toegestamp. "Ek het kliphard gegil en op daardie oomblik stap ‘n man en sy vrou verby, maar hulle het my net aangekyk en verby gehou," vertel ‘n ontnugterde mev. Botha.
Die aanvaller het haar op ‘n stadium op die grond gehad en ‘n skroewedraaier uitgepluk.
"Ek het begin dink dis my einde. ‘n Mens kan nie verduidelik wat deur jou gedagtes gaan as jy so iets hier bo jou sien nie."
Skielik het mev. Botha gedagte gekry om na haar man te roep.
Die aanvaller het haar gelos en gevlug.
"Hy het die deur agter hom toegeklap en ek het die kamersleutels wat nog buite in die deur was gegryp om myself binne toe te sluit, maar ek het so gebewe dat ek dit nie kon regkry nie."
Mev. Botha sê sy woon al 18 jaar in haar huis, maar wat in daardie vertrek met haar gebeur het, wil sy nooit weer beleef nie.
Sy het tevergeefs na die polisie op hul 10111-noodnommer probeer deurkom.
‘n Ontstoke mnr. Hannes Botha, wat eerste op die toneel was, vertel: "My ma was in ‘n verskriklike toestand toe ek hier kom en het agter die deur gesit. Nie ek of my vrou of mense by die kantoor kon die polisie in die hande kry nie."
Hulle het uiteindelik op ander nommers na die polisie deurgekom en is meegedeel dat die 10111-nommer buite werking is.
Artikel en foto's: Anoeschka von Meck
.jpg)
Me. Jenny Botha troos haar ouma, mev. Maria Botha, wat nog baie emosioneel is wanneer sy oor die wrede aanval op haar vertel.