GEORGE NUUS - Twee fietsryers van die Kaap arriveer Sondag 22 Oktober in George wanneer hulle hul tog ten bate van 'n jong leukemielyer van Durbanville afsluit. Pieter Oberholzer en George Hamilton het op 13 Oktober by Kaappunt weggespring en ry kuslangs met hul bergfietse oor 'n roete van 705 km.
Klein Elleny Engelbrecht (6) is in Augustus met leukemie gediagnoseer. Haar ouers, Cornelis en Zahn, beskik oor 'n mediese fonds, maar daar is geweldig baie bykomende uitgawes.
"Elleny is tans in 'n twee weke siklus van chemoterapie. As als goed gaan, sal sy binnekort 'n nege weke siklus ondergaan. Dis 'n proses wat ongeveer twee jaar duur," vertel Zahn. Elleny se immuniteit word heeltemal onderdruk so sy is uiters vatbaar vir infeksies. Sy mag vir sewe maande nie skool toe gaan nie.
Gevra hoe hulle dit verwerk, sê Zahn die gesin vat dit dag vir dag. "Ons probeer by ons gewone roetine hou. Elleny het 'n agtjarige boetie en sussie van twee jaar. Die beste raad wat ek gekry het, is vergeet van gister, moet jou nie oor môre te bekommer nie, en maak die beste van vandag."
Mense kan skenkings maak deur op die webtuiste van Caring Daisies in te gaan of bel die projekleier, Pieter Oberholzer by 082 332 5782 vir besonderhede.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'