GEORGE NUUS - Twee mans, Winston Meyer en sy seun Byron, wat van die moord op 'n 35-jarige man in Conville in Februarie 2019 aangekla is, is Donderdag 25 November in die George-streekhof onskuldig bevind op dié aanklag.
Winston is egter skuldig bevind op aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Hy is 'n boete van R3 000 hiervoor opgelê.
Die twee is in Conville in hegtenis geneem ná 'n man Saterdagoggend, 2 Februarie 2019, doodgesteek is. Conville-polisie se stasiebevelvoerder, kol. AB Kriga, het destyds gesê die mans het na bewering baklei toe die voorval in Sardynstraat plaasgevind het.
"Die ambulans het omstreeks 03:40 opgedaag. Die man is op die toneel dood verklaar," het Kriga gesê.
Volgens die beskuldigdes se regsverteen-woordiger, Winston Jansen van Jansen en Samson-prokureurs, was daar egter verskeie mense met skerp wapens op die toneel.
"Selfs die oorledene het 'n slaghuismes by hom gehad, so daar was geen objektiewe, aanvaarbare getuienis dat die hof hulle kon skuldig bevind aan moord nie. Die oorledene het net een steekwond gehad en niemand het gesien wie hom gesteek het nie," sê hy.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'