GEORGE NUUS - Luhan Smit van George is net 13 jaar oud en al klaar het hy 'n groot omgeehart vir diere. Hy het Maandag 12 Januarie twee ton hondekos aan Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) by hul tydelike perseel in die Langkloof oorhandig. Hy het ook kontant oorhandig wat aan hom geskenk is.
As die honde kon praat sou hulle sekerlik dankie gesê het. Sy gunstelinghond by Odin, Tawny, was ook byderhand om te kom "dankie sê".
Soos dit al vir Luhan tradisie oor die feestyd geword het, het hy weer hondekos vir Odin ingesamel en help hy dat 'n hele paar honde nie saans honger gaan slaap nie.
Luhan se pogings kom 'n lang pad en bring elke jaar groot glimlagte onder Odin se personeel. Sy pa, Kobus, versier sedert 2007 elke jaar hulle huis in Ribbokstraat met die mooiste Kersliggies. Mense wat na die liggies gaan kyk, kan dan skenkings maak. Vanjaar was die sesde agtereenvolgende jaar wat hy dit gedoen het.
Luhan het gesê hy het 'n passie daarvoor en hy geniet dit. "Diere kan nie vir hulself praat nie. Ek wil hulle en dierewelsyninstansies help."
Sy ma, Belinda Smit, het gesê sy en haar man, Kobus, is baie trots op hom.
"Hy kry dit reg om ander mense deur sy optrede te inspireer. Dit het 'n positiewe impak op welsynsinstansies en die gemeenskap. Hy maak 'n verskil selfs as 'n kind. Ons maak ons kinders van kleins af groot dat jou liggie daarbuite moet skyn."
Marlene Mennie van Odin, wat Luhan baie goed ken, het nadat die kos afgelaai is aan George Herald gesê die kos help baie. Dit gee vir hulle minstens kos vir 15 dae waarmee hulle die honde kan voer. Sy het benadruk die kos sal nie net vir honde in Odin se sorg gegee word nie, maar ook versprei word aan ander honde as deel van die organisasie se uitreikaksies.
Volgens haar is Januarie gewoonlik 'n stil maand vir skenkings wat ontvang word. Elke bietjie help. 'n Privaat maatskappy in George, Trend Sales, het ook 'n bydrae vir Luhan gemaak.
Mens kan steeds bydraes maak. Odin maak net soos soortgelyke instansies staat op hulp van die publiek. Mense kan steeds diere by Odin aanneem.
Kontak Mennie by 082 875 9483 of Colleen Smith by 072 084 1374.
Luhan Smit (13) van George by die kos wat hy aan Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) oorhandig het. Saam met hom is sy gunstelinghond by Odin, Tawny. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’