SKOLENUUS - Pacaltsdorp Primêr was Woensdag 14 Januarie 'n miernes van bedrywigheid toe 208 nuwe graadeens vir die 2026-skooljaar verwelkom is.
Die opgewonde nuwelinge is in vyf klasse ingedeel, met onderwysers wat slaggereed was om elke leerder hartlik te ontvang en die oorgang na die skoollewe so gemaklik moontlik te maak.
Die skool het Dinsdag met George Herald se besoek 'n ope dag gehad.
Soos in vorige jare het die skool ook vanjaar weer laat inskrywings ontvang, 'n situasie wat 'n groot uitdaging vir die administrasie ingehou het.
Die aanvang van die nuwe skooljaar het Maandag egter vir die skoolhoof, Aldrin Manuel, en sy personeel op 'n emosionele noot begin ná die tragiese dood van 'n personeellid tydens die skoolvakansie. Juffrou Natasha Noordman, 'n gr. 2-opvoeder, is in 'n motorongeluk oorlede.
"Dit was 'n uiters emosionele tyd vir ons almal," het Manuel gesê. "As hoof was dit vir my belangrik om die personeel te verseker dat ons, ten spyte van juffrou Noordman se dood, so ook juffrou Suzy Myners se dood verlede jaar en die feit dat ons ook in 2025 van verskeie opvoeders afskeid moes neem wat ander werksgeleenthede aanvaar het, okay gaan wees.
"Die landskap het verander, maar ons sal okay wees. Ons sal okay wees omdat ons 'n Here het wat vir ons omgee, ons lief het en ons seën."
Hy het bygevoeg dat die personeel waardevolle ondersteuning ontvang het om die emosionele las te help dra.
Lyk hulle nie pragtig in hulle skooluniform en geel haarlinte nie! Dyleesha Sampson en Charneeq Jonck is trotse PPS-leerders.
"Met die hulp van ds. Myrtle Neewat-Joubert, predikant van die VGK, kon ons die emosionele impak beter hanteer. Sy het 'n roerende boodskap gebring en 'n pragtige afsluitingsgeleentheid gelei ter nagedagtenis aan juffrou Noordman. Dit het vir ons almal baie beteken."
Manuel se boodskap aan die personeel was dat die skool se gevestigde kultuur en waardes beskerm moet word. "Dit is 'n kultuur wat lank bestaan het voordat enigeen van ons hier aangekom het. Ons kan nie bekostig dat dit verlore gaan nie, veral nou dat ons ook nuwe personeel verwelkom het."
Aan ouers het hy die belangrikheid van samewerking beklemtoon. "As ons as 'n span saamwerk, kan ons enigiets vermag. Daar is 'n vennootskap wat tussen die skool en ouers gebou móét word, sonder dit kan onderrig en leer nie tot sy volle reg kom nie.
"Ouers en opvoeders moet met een stem praat en dieselfde boodskap oordra. Leerders moet weet daar is geen verdeeldheid tussen die huis en die skool nie."
Hy het afgesluit: "Met goeie samewerking en wedersydse respek kan ons saam groot dinge bereik. As 'n span is ons tot enigiets in staat. Ons is PPS."
Fazelyn Jantjies saam met haar ouers, Faieza Jantjies en Christopher Pietersen. Agter haar staan haar klasonderwyser, juffrou L Carolus.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’