SKOLENUUS - New Dawn Park Primêr het op die eerste dag van die nuwe skooljaar 125 opgewonde graadeens verwelkom. Die skoolterrein was gevul met energie en afwagting toe die jong leerdertjies hul skoolloopbaan amptelik begin het.
Soos by talle ander skole, was laat inskrywings ook hier een van die grootste uitdagings vir die personeel.
Volgens die skool is dié situasie egter hanteer soos dit opgeduik het, met die fokus steeds stewig op die welstand en beste belange van die leerders.
Die skoolhoof, Francois Visagie, het tydens die aanvang van die skooljaar sterk klem gelê op die belangrikheid van omgee en betrokkenheid by kinders.
Sy boodskap aan die personeel was eenvoudig maar betekenisvol: "Ons doel is om waarde toe te voeg tot ons leerders se opvoeding, maar ook tot hul lewens."
Hy het verduidelik dat New Dawn Park Primêr baie leerders bedien wat uit uitdagende en moeilike omstandighede kom.
"Vir ons gaan dit nie net daaroor om kinders akademies te onderrig nie. Ons moet ook omgee. Deur om te gee, kan ons hul lewens aanraak en 'n verskil maak wat verder strek as die klaskamer."
Visagie gebruik gereeld 'n bekende aanhaling om sy span te motiveer.
"Ek sê altyd vir my personeel: 'Nobody cares how much you know, until they know how much you care.' Dit is die kern van wat ons hier probeer doen."
Juffrou Brumilda Volkwyn saam met twee van haar graadeens, Coneshire Johnson en Clark Pretorius.
Hy het ook 'n ernstige beroep op ouers gedoen om, ondanks uitdagende werksomstandighede, so betrokke moontlik by hul kinders se lewens te bly. "Ek verstaan dat baie van ons ouers lang ure werk. Hulle verlaat soggens vroeg die huis wanneer die kinders nog slaap en kom saans terug wanneer die kinders reeds in die bed is," het hy gesê.
"Dit is egter belangrik om doelbewus tyd te maak, sodat kinders nie verlore raak nie. As ouers en die skool saamwerk, kan ons sukses behaal en ons kinders die ondersteuning gee wat hulle nodig het."
Cavenicia Jansen en Hope-Lynn Smit lyk tuis langs hulle gr. 1-onderwyser, Miranda McPherson.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
