Update
GEORGE NUUS - Sy het nie die vaagste benul gehad wat fout is met die bome in hul tuin nie. So het Johanna Vermeulen, 'n inwoner van George, vertel oor die stompkopkewer (Euwallacea nr. fornicates) en sy simbiotiese swam (Fusarium euwallacea) wat van die bome in hul tuin aangeval en vernietig het. Vermeulen is sover bekend die eerste inwoner wat reeds meer as twee jaar gelede gesien het daar is fout met bome in die gebied.
Vermeulen het aan die George Herald vertel dat sy die eerste keer vroeg in 2017 gesien het daar is fout met van die bome in hul tuin. Blare van die bome het al minder geword en dit het ook gelyk soos 'n swam en daar was poeier in van die gaatjies. Dit het 'n blou-swart kleur gehad.
Sy en die tuinman, Niklaas Prins, het toe by 'n instansie wat gifstowwe verkoop gaan aanklop en insekdoder gekoop. Een van die bome is behandel, maar het dit uiteindelik nie gemaak nie.
Vermeulen het gesien van die ander bome is ook siek en kontak gemaak met die munisipaliteit. Sy het dit egter nooit opgevolg nie.
In 2018 het sy Braam du Preez, 'n bosboukonsultant, gekontak. Du Preez en sy eggenoot, Desiree, het gaan kyk. Desiree het eerste die klein swart kewer gesien, maar hulle het in daardie stadium nog nie presies geweet wat dit is nie.
Johanna Vermeulen wys een van die nuwe bome, 'n wildevy wat sy aangeplant het.
Du Preez het die bal aan die rol gesit. Hy het in Februarie 2018 monsters van die bome na Pretoria geneem.
Tydens sy besoek het hy dit met kundiges by die instituut vir bosbou en landboutegnologie (Fabi) aan die Universiteit van Pretoria bespreek. Prof. Wilhelm de Beer van Fabi het later self George besoek en ook op Knysna monsters geneem. Hy en sy span het vasgestel dat die stompkopkewer en sy simbiotiese swam beslis die skade veroorsaak.
Vermeulen het vertel dat minstens vier bome in hul tuin uiteindelik gevrek het. Twee van hulle was meer as 70 jaar oud.
Volgens Vermeulen is mense nog nie bewus genoeg van die probleem nie. Hulle besef nog nie dat hulle die aangetaste dele moet vernietig nie.
Die hele ongelukkigheid het egter 'n positiewe kant. Sy het nog bome aangeplant in die plek van die bome wat gevrek het. Dit sluit in assegaai- en witpeerbome.
Johanna Vermeulen, 'n inwoner van George by een van die bome wat aangetas is.
Sy is bewus van ander bome in die omgewing wat aangetas is. Die munisipaliteit het al aangetaste bome op 'n sypaadjie verwyder.
Dr. Jaap Steenkamp, bekende bosboukenner, het gesê die probleem word groter. Dit is nou ook gevind in Kaapstad en Somerset-Wes.
Wetenskaplike bewyse is gevind dat die kewer op twee swamme leef op klam en droër hout. In ander dele van die wêreld voed hy op drie swamme.
Volgens hom is daar baie geleer die afgelope tyd. Daar is ook vordering met die vestiging van 'n munisipale stortingsterrein vir die aangetaste hout. Meer besonderhede sal waarskynlik later bekend gemaak word.
Mense kan met Steenkamp in verbinding tree by 082 377 7998 of 'n e-pos stuur na jaap@forestservices.co.za.
Die kewer is 2 mm lank en kom oorspronklik van Suidoos-Asië.
Die verwoestingswerk van die stompkopkewer (Euwallacea nr. fornicates) en sy simbotiese swam (Fusarium euwallacea) is duidelik sigbaar. Foto's: Eugene Gunning
Lees vorige artikels hier:
- Dodelike stompkopkewer gaan ongestoord voort!
- George kan boomloos word
- Bome vrek op 'n streep
- Besmette bome kry aandag
- Info session about borer beetle
- Beheermiddels op besmette bome getoets
- Bome vrek steeds in George
- Feared borer beetle infestation wreaks havoc in George
- Borer beetles a danger to trees
- Steer clear of dying trees in George area
- Spot beetle infestation
- Expert investigates beetle plague
- Beetle Threat: Public asked to help
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'