GEORGE NUUS - Braam du Preez, 'n onafhanklike bosbou en veldbrand konsultant, wat oorspronklik die fluitjie meer as 'n jaar gelede geblaas het oor die stompkopkewer en dr. Jaap Steenkamp, bekende bosboukenner, waarsku oor die verwoestingswerk wat steeds voortgaan onder bome in onder meer George.
Hulle het onlangs met kundiges van Fabi (die Instituut vir bosbou en landboutegnologie) asook 'n entomoloog vergader oor die stompkopkewer (Polyphagus Shot hole Borer Beetle of PSHB) en die bedreiging wat die aggressiewe boorder vir ornamentele bome, landbou-gewasse sowel as inheemse-bos bome inhou.
Volgens hulle is dit ook nou bekend dat die kewer in Bloemfontein asook Kaapstad gevind is. Die grootste verspreider van die kewer is waarskynlik die mens self wat veral deur afgesaagde besmette hout wat vervoer word die kewer verder versprei deurdat nuwe verspreidingspunte so gestig word.
Hulle benadruk dit is duidelik dat die bewusmakingspoging uitgebrei sal moet word indien die kewer enigsins doeltreffend beheer gaan word. Talle mense en entiteite is tans nog in onkunde of ontkenning, maar hoe vroeër daadwerklik opgetree word, hoe beter.
Volgens die kundiges van Fabi het die kewer 'n geweldige aanwastempo en verder word daar nou twee swamme met die kewer geassosieer om sy oorlewing te verbeter. Die een swam word gebruik in lewende klam hout terwyl die tweede voeding vir die kewer verskaf in droër omstandighede en derhalwe so sy oorlewing verder strek.
Behandeling van bome toon redelike sukses, maar baie aspekte van behandeling is eksperimenteel. Tans word 'n tweeledige metode toegepas met mengsels van middels. Die eerste mengsel is sistemies en word toegedien deur boom inspuiting.
Hierdie metode het 'n direkte impak op die kewers in die boom met beperkte omgewingsimpak.
Die tweede been van die behandeling is gemik op vinnige uitklop van die kewer en die swamme waar 'n fungisied (swamdoder), kontak insekdoder en 'n super benatter saam aan die boom gespuit word tot ongeveer drie meter hoog.
Uit die aard van die saak kan resultate nie gewaarborg word nie en die registrasie van sommige van die middels is bevestig, maar registrasienommers is nog nie ontvang nie. In die Pietermaritzburg-omgewing is ook persone wat poog om noodregistrasie op sekere middels te verkry.
Volgens hulle is 'n spanpoging nodig om die kewer te bekamp en veral bronne van besmetting en herbesmetting te beperk. Die probleem en bedreiging van ons bome is groter as wat in die algemeen besef word.
Wat staan lede van die publiek nou te doen?
Wees waaksaam en kyk vir tekens van besmetting en meld dit aan by enige van bostaande persone of die bestuurder van die Tuinroete Botaniese Tuin. Die lys van kwesbare boomsoorte groei teen 'n kommerwekkende tempo en die volle potensiële impak in Suid-Afrika is nog onbekend. Kwekerye word aangemoedig om op die uitkyk te wees vir simptome van die kewer en verkieslik besmette bome te verwyder. Kwekerye kan ook probeer bepaal watter boomsoorte bestand is teen die kewer.
Oorweeg behandeling van besmette volwasse bome, maar indien bome verwyder moet word, wees asseblief versigtig om besmette materiaal soos brandhout uit die area van oorsprong te vervoer en sodoende die kewer se verspreiding te versnel.
*Steenkamp en Du Preez het self die artikel aangebied vir publikasie
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'