SPORT NUUS - Darnell Delport van Hoërskool Outeniqua het op Saterdag 8 November met ’n silwer medalje en ’n onvergeetlike internasionale rugbyervaring van Dakar in Senegal af teruggekom.
Hy was deel van die Suid-Afrikaanse o. 17-sewesrugbyspan wat van 1 tot 3 November aan die Olimpiese Jeugsomerspele deelgeneem het.
Die span het vyf wedstryde gespeel - drie groepwedstryde, ’n halfeindstryd en toe die eindstryd, toe hulle die knie teen Frankryk moes buig.
Vir Darnell was die oorwinning oor Argentinië in die halfeindstryd die groot hoogtepunt van hulle besoek. “Tóé het ons geweet ons gaan nou in die finaal wees,” sê hy.
Sy stiefpa, Dewald Femboes,’n rugbyafrigter by Hoërskool Outeniqua, speel ’n groot rol in sy rugbyontwikkeling en help Darnell om sy vaardighede by die huis te slyp. Hy sê dit maak sy hart warm om te sien hoe Darnell presteer.
“Dit is net God se genade en seëninge wat hom dra. Ek is net bly dat ek by al sy wedstryde kan wees en kan sien hoe hy groei en die mikpunte wat hy vir homself stel bereik. Hy leef nou drome uit waarvan hy my drie of vier jaar gelede vertel het.”
Volgens Femboes het Jandré Blom, agterlynafrigter van Outeniqua se eerste span, en kondisioneringsafrigter André du Plessis ’n baie groot invloed op Darnell se ontwikkeling gehad. Hy het reeds op laerskool as Denneoord-leerder op die rugbyveld presteer.
Hy het op o. 13-vlak aan die Cravenweek deelgeneem en later die o. 16 Grant Khomo-week gehaal. Vanjaar het hy ook op o. 18-vlak aan die Cravenweek deelgeneem, waar hy as heelagter uitgedraf het.
Hy is boonop verlede jaar in die Elite Player Development-program (EPD) vir o. 16-spelers opgeneem, en vanjaar weer op o. 17-vlak.
Darnell in aksie op die rugbyveld. Foto: Verskaf
Femboes sê Darnell se toewyding is een van sy grootste sterkpunte. “Hy werk baie hard, op en van die veld af. Partykeer moet ek vir hom sê hy moet ’n bietjie stadiger en rus.”
Sy ma, Marnell, is ook ’n groot steunpilaar en is ewe trots op haar seun. Volgens Darnell was sy na aan trane toe hy die sewesspan gehaal het.
Darnell was ook ’n uitstekende hoogspringatleet en het reeds op o. 15-vlak ’n hoogte van 1,95 m behaal, wat hom ’n medalje by die SA Skole-atletiekbyeenkoms besorg het.
Hy het vroeër die week ook verneem dat hy deur die Eden-sportraad vir die toekenning as beste nuweling genomineer is.
Wat sy toekoms betref wil Darnell ná matriek graag verder studeer en sy rugbyloopbaan voortsit, verkieslik by een van die land se groter rugbyunies.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’