Update
GEORGE NUUS - Die George-munisipaliteit monitor bome in strate, parke en op munisipale grond en beveilig dit deur die oorhangende takke te sny wanneer dit nodig word.
Só het Walter Hendricks, die munisipaliteit se direkteur gemeenskapsdienste, gereageer op navrae van die George Herald oor die stompkopkewer (euwallacea nr. fornicates) en sy simbotiese swam (fusarium euwallacea) wat steeds bome in George vernietig.
Dit is nou al meer as 'n jaar nadat daar die eerste keer opgemerk is dat daar iets met sommige bome in George skort. Inwoners is bekommerd oor die situasie. Daar is ook kommer dat dit kan oorspoel na die landbou.
Die munisipaliteit het by monde van Hendricks erken die kewer is steeds teenwoordig in bome in George en omgewing.
Volgens Hendricks word dooie bome stuk-stuk opgesny en verwyder. "Alhoewel daar 'n afsonderlike plek by die tuinstortingsgebied is, kan besmetting nie regtig voorkom word nie omdat die kewer en verwante swamme op te veel maniere kan versprei en oorkoepelende beheer op hierdie stadium nog nie suksesvol beproef is nie.
"In George is munisipale bome wat geaffekteer word meestal uitheems en/of oud, en word daarom in elk geval stelselmatig vervang soos wat hulle uitsterf.
"Die munisipaliteit werk ook saam met 'n paar universiteite om verskillende moontlike beheermiddels op besmette bome te toets. Tot hede was daar nog geen middel wat blyk 100% suksesvol te wees nie, maar 'n paar middele wat in Kalifornië getoets word lyk belowend en, wanneer meer inligting hieroor beskikbaar is, sal dit aan die publiek bekendgemaak word."
Die munisipaliteit het privaat eienaars herinner om die bome op hul erwe gereeld te ondersoek vir tekens van die kewer en te beveilig deur oorhangende takke af te sny indien daar besmetting is.
Besmette plantmateriaal kan by die munisipaliteit se tuinstortingsterrein op die R102 (lughawe-pad) afgelaai word. Daar moet aan die personeel aangedui word dat die hout besmet is en nie vir kompos of ‘mulching’ gebruik kan word nie.
Hendricks het gesê privaat eienaars kan ook by die Tuinroete Botaniese tuin aanklop vir inligting. Bel 044 874 1558.
* Braam du Preez, 'n bosboukonsultant, wat verlede jaar die bal aan die rol gesit het om die situasie op te los, het dit verwelkom dat die munisipaliteit aandag gee.
"Dis belangrik om so gou moontlik te kyk hoe die verspreiding van die kewer en sy geassosieerde swam beperk en verlangsaam kan word. Daar moet deurlopend gesoek word na chemiese stowwe om die kewer te dood."
Lees vorige artikels hieronder:
- Bome vrek steeds in George
- Feared borer beetle infestation wreaks havoc in George
- Borer beetles a danger to trees
- Steer clear of dying trees in George area
- Spot beetle infestation
- Expert investigates beetle plague
- Beetle Threat: Public asked to help
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'