Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die stompkopkewer (Euwallacea nr. fornicates) en sy simbotiese swam (Fusarium euwallacea) vernietig steeds bome in George. Dit is nou 'n jaar nadat die eerste keer opgemerk is daar skort iets met sommige bome in George. Besorgde inwoners het die afgelope week aan die George Herald gesê dit kom steeds voor en bome vrek.
Johanna Vermeulen, 'n inwoner, het reeds verlede jaar gesien daar's fout met die bome in haar woonbuurt. Sy het vermoed dis goggas wat die skade veroorsaak.
Braam du Preez, 'n bosboukonsultant, is betrek en hy het die bal aan die rol gesit. Hy het in Februarie 2018 monsters van die bome na Pretoria geneem.
Tydens sy besoek het hy dit met kundiges by die instituut vir bosbou en landboutegnologie (FABI) aan die Universiteit van Pretoria bespreek.
Prof. Wilhelm de Beer van FABI het later self George besoek en ook in Knysna monsters geneem. Hy en sy span het vasgestel dat die stompkopkewer en sy simbotiese swam beslis die skade veroorsaak.
Die kewer is 22 mm lank en kom oorspronklik van Suidoos-Asië.
In een stadium verlede jaar het die George-munisipaliteit waarskuwingsborde op sommige bome in die sakekern aangebring.
Du Preez het die afgelope week gesê inwoners het hom onlangs weer gekontak. Hulle wou weet wat aan die gang is, want daar is steeds bome wat vrek.
"Die vraag wat mense vra is of ons onnodig wolf-wolf geskreeu het. Het ons mense onnodig bang gemaak?"
Volgens hom was dit beslis nie onnodig nie. "Daar is steeds bome wat vrek. Die probleem het nie verdwyn nie. Ek weet self van bome wat gevrek het."
Flip de Swardt by die eikeboom. Die boom is reeds in 1884 geplant.
Dit is onder meer 'n Engelse akkerboom (Quercus robur) in Glen Barrie en ook bome in Meadestraat en Heatherlands. "Die enigste logiese verklaring is dat die kewer en die swam daarvoor verantwoordelik is."
'n 'Sugar maple' (Acer saccharum) in 'n tuin in Mountainweg is behandel met 'n insekdoder, maar skynbaar met beperkte sukses.
Na aanvanklike nuwe groei, wil dit voorkom asof die boom nou terugsterf geoordeel aan die vergeelde blare en kaal takke. "Onlangs is vasgestel dat die behandeling nie die gewenste uitwerking gehad het nie."
Hy het benadruk hy tree bloot op as skakel tussen besorgde inwoners en die plaaslike owerheid en ander belanghebbendes. "Ons hoor van die dinge wat die George-munisipaliteit gedoen het soos waarskuwingsborde wat aangebring is. Ons wil nie op tone trap nie. Ons soek net oplossings. Dit kan nie weggewens word nie en ons wil saamwerk met die owerhede om die verspreiding daarvan te bekamp."
Kyk 'n video hieronder:
'n Apparaat wat aan die boom aangebring is om dit te behandel. Foto: Eugene Gunning
Volgens Du Preez het Trudy Paap, 'n kundige op die gebied, hom per e-pos laat weet dat die beweging van vuurmaakhout ontmoedig behoort te word.
Sy het ook gewaarsku dat mense nie sommer enige chemikalieë moet gebruik nie. Daar is nog navorsing in die verband aan die gang.
Die George-munisipaliteit het by navraag laat weet dat die instansie waarskynlik eers aanstaande week sal reageer. Die betrokkene wat dit hanteer is nog met verlof.
Die bordjie voor die Eikeboom by die NG Kerk George wys hoe lank terug die boom al geplant is.
Lees vorige artikels hieronder:
- Feared borer beetle infestation wreaks havoc in George
- Borer beetles a danger to trees
- Steer clear of dying trees in George area
- Spot beetle infestation
- Expert investigates beetle plague
- Beetle Threat: Public asked to help
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'