GEORGE NUUS - 'n Weduwee met 'n gestremde seun verkeer onder geweldige druk omdat sy reeds vir agt maande wag vir die staatsdienspensioenfonds om haar aansoek om weduweepensioen te verwerk.
Sy het 'n derde stel aansoekvorms verlede week na die fonds se administrasieafdeling aangestuur.
Haar man is reeds in Maart oorlede.
Die vrou, wat anoniem wil bly, het die George Herald gekontak na aanleiding van 'n artikel wat 'n tyd gelede verskyn het oor 'n ander weduwee wat vyf maande ná haar man se dood eers haar eerste pensioenuitbetaling ontvang het, nadat die George Herald begin navraag doen het.
"Dit is 'n verskriklike tyd vir my. My seun het spesiale behoeftes en moet gereelde fisioterapie ontvang, anders raak hy heeltemal spasties.
"Met my man se inkomste wat weggeval het, raak dit by die maand moeiliker om met ons geld deur te kom."
Korrektiewe dienste, waar haar man in diens was tot voor sy aftrede 'n paar jaar gelede, het die eerste pensioenaansoek namens haar afgestuur.
Toe sy egter drie maande later by die pensioenfonds se administrasie navraag doen, moes sy hoor dat die fondsadministrasiepersoneel nooit haar aansoek by die poskantoor afgehaal het nie. Dit is na die sender teruggestuur.
Hierna het sy self 'n tweede aansoek per koerier afgestuur en seker gemaak dat die fondsadministrasie vir ontvangs teken.
Toe sy twee weke later weer navraag doen, het hulle gesê 'n afskrif van haar identiteitsdokument ontbreek.
"Dit verstaan ek glad nie, want ek het seker gemaak dat dit by my aansoek ingesluit is. Daarna het ek nie weer van hulle gehoor nie."
Sy het einde Oktober weer navraag doen, maar kon nie sekerheid kry oor wanneer uitbetaling sou geskied nie. Daarna het sy weer 'n aansoekvorm deur die pos ontvang en dit óók voltooi en verlede Vrydag weer aangestuur.
"Ek is raadop. Ek kan nie verstaan wat aangaan nie. Wat kan die probleem wees? My man is nou al nege maande dood."
Volgens 'n ouditeur wat hierdie tipe aansoeke hanteer, het die staatsdienspensioenfonds regtelik drie maande om 'n aansoek af te handel.
'n Navraag aangaande die weduwee se klagte is op 27 November aan Mack Lewele, mediaskakelpersoon, gestuur.
Dit is op 7 Desember opgevolg met nog 'n navraag, maar hy het tot op hede nog nie gereageer nie.
Lees 'n verwante artikel: Trauma van weduwee toe pensioen sloer
ARTIKEL & FOTO: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'