GEORGE HERALD NUUS - Die gesloer van die staatsdienswerkers-pensioenfonds (GEPF) het 'n weduwee van George ná haar man se dood in 'n benarde posisie gehad. Sy moes vyf maande wag voordat die GEPF haar pensioen begin betaal het.
In dié tyd moes sy rondskarrel om te sorg dat daar elke maand R3 729 beskikbaar was om haar mediesefondspremie, wat 100% deur die staatswerkers-mediese fonds (Gems) gedek word, te betaal.
Die subsidie kon eers inskop nadat haar pensioenaansoek afgehandel is.
Nadat die George Herald navraag gedoen het oor die sloer met die uitbetaling, het Mack Lewele, senior bestuurder van kommunikasie by die pensioenfonds verskoning aangebied en haar geld is, soos belowe, verlede week in haar rekening gedeponeer.
Dit was terugwerkend vir vyf maande, en sy het ook haar November-pensioen ontvang.
Die mediese fonds se subsidie het ook ingeskop en die premies wat sy moes betaal, is nou aan haar terugbetaalbaar.
Die weduwee het egter opnuut 'n skok ontvang toe sy die pensioenbedrag sien wat inbetaal is.
Dit moet ten minste 75% van haar man se maandelikse pensioen beloop, maar is minder as die helfte wat sy sê haar toekom.
Die egpaar het in 2012 gereageer op 'n uitnodiging van die pensioenfonds waarvolgens ongeveer R500 van die oorledene se maandelikse pensioen afgetrek sou word sodat sy vrou met sy dood driekwart van sy maandelikse pensioengeld kon ontvang.
Sy laaste pensioen het R2 760 beloop.
Saam met die R500 sou dit neerkom op 'n pensioen van R3 260. Driekwart daarvan is R2 445. Sy ontvang egter net R1 400 per maand.
"Ek is reeds deur 'n verskriklike traumatiese tyd, en nou nog dit. As 'n vriendin nie vir my die mediesefondspremies betaal het vir die vyf maande nie, weet ek nie wat ek sou gedoen het nie.
"Die manier waarop my aansoek hanteer is, is skokkend. 'n Mens is op jou kwesbaarste en dan moet jy so sukkel."
Haar man is in Mei oorlede en nadat haar aansoek ingedien is, het maande sonder enige terugvoer verloop.
Dit het talle oproepe gekos om uit te vind hoe haar aansoek vorder. Toe sy in September weer bel, moes sy hoor dat haar handtekening op een van die vorms bevraagteken word.
"Hoe lank sou dit geduur het voordat iemand my in kennis gestel het as ek nie self gebel het nie? Ek moes van heel voor af aansoek doen," sê sy.
Haar nuwe aansoekvorms het sy op aanbeveling van die persoonsadministrasieafdeling in George direk aan 'n agent van die pensioenfonds in Kaapstad gestuur in die hoop dat dit die proses sou bespoedig.
Dié amptenaar het by twee geleenthede waar die weduwee navraag gedoen het, gesê die dokumentasie is ontvang en word op die sisteem gelaai.
Twee weke later moes sy egter uitvind dat haar aansoek nooit by die poskantoor opgetel is nie en het sy versoek dat dit aan haar teruggestuur word.
Sy is toe aangesê om dit aan die pensioenarisonderhoudafdeling in Pretoria te pos, waar sy later bevestiging gekry het dat dit ontvang is.
Dit was egter nie voor die George Herald gebel het, dat die administrasie bevestig het dat die geld uitbetaal gaan word nie.
"As jou lewensmaat sterf, is dit uiters traumaties, maar om dan nog so in 'n hoek gedryf te word wat jou finansies betref, is om van gek te word. Dit is totaal onaanvaarbaar," sê die klaer.
Lewele het nie vrae beantwoord oor waarom die aansoek so gesloer het nie, en het ook nie gesê wat die gemiddelde wagtyd vir pensioenuitbetalings is nie.
Terugvoer word nog afgewag oor die korrektheid van die weduwee se pensioenbedrag. Sy wou anoniem bly.
Sy het 'n vriendin, wie se man ook in Mei oorlede is, wat in dieselfde bootjie is.
Hierdie vrou het 'n verstandelik gestremde kind en haar mediesefondspremies beloop R6 000 per maand, wat sy self moet opdok totdat haar pensioenaansoek afgehandel is.
ARTIKEL & FOTO: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'