Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die South African Water Warriors het Sondagoggend die ondersteuning van verskeie motorfietsklubs van George, Mosselbaai en selfs Knysna gekry om plaaseienaars in die droogtegeteisterde areas in die Noord-Kaap te help.
Die motorfietsryers het vanaf 09:00 by Pick n Pay in Knysnaweg bymekaargekom waar die oorhandiging gedoen is.
Pieter du Plessis van die gemeenskaps-gebaseerde organisasie sê hulle is dankbaar vir die ondersteuning. Dit gaan 'n groot verskil maak. Hy sê hulle het aanvanklik net water bymekaargemaak en dit aan plaaseienaars gegee wat deur droogtes lamgelê is, maar die kosdonasies help verskriklik baie.
"Dis geld wat hulle weer vir ander doeleindes kan gebruik," sê hy.
Volgens Du Plessis het hulle, kontant ingesluit, tussen R7 500 tot R8 000 in donasies ontvang. "Die donasies gaan aan boere in die Noord-Kaap waar dit meer as sewe jaar laas ordentlik gereën het," sê hy.
Fotogalery: Motorfietsklubs ondersteun Water Warriors
Du Plessis sê hulle kan help met water en kruideniersware, maar dis moeilik om met voer vir die diere te help. Hulle sal egter steeds voortgaan met die uitreiking en enigiemand wat wil help of 'n donasie wil maak is welkom om hulle te kontak.
Kyk 'n video hieronder:
SA Water Warriors se direkteur, Deon Smith, het ook Sondag sy ondersteuning kom wys. "Hy het al die pad uit die Kaap gekom om ons te kom ondersteun," sê Du Plessis.
Smith sê hy het 'n goeie lewe gehad, hoekom nie teruggee as hy kan nie. Hy sê hy het weggebreek van die oorspronklike groep weens politieke inmenging. "Dis mos nie hoekom ons mense help nie," meen hy.
Smith is bekend vir sy groot hart vir dié wat minder het en swaarkry.
Du Plessis sê daar was sowat 80 motorfietse wat in 'n konvooi saam met 10 voertuie gery het toe hulle Sondag die donasies na 'n stoor geneem het.
Vorige artikel: Elke bietjie help
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'