GEORGE NUUS - Talle mense, waaronder bejaardes, moet nou 'n ander plan maak om daagliks 'n warm maaltyd te bekom. Van hulle het dit tot voor die inperkingstyd by kettingwinkels gekoop wat sulke dienste aangebied het.
Fernando Gomes, eienaar van Pick n Pay, Pre-Cap Centre in Courtenaystraat, het Woensdag by navraag gesê hy het talle navrae daaroor gehad.
Die winkel moes onlangs van sy aktiwiteite tydelik staak as gevolg van die inperkingstydperk.
'n Verteenwoordiger van die gesondheidsafdeling van die Garden Route-distriksmunisipaliteit het onverwags op 31 Maart daar opgedaag. 'n Rukkie later het Gomes 'n telefoonoproep van die polisie ontvang en is hy meegedeel dat daar 'n klagte by hulle gelê is.
Hy moes 'alle voedselproduksie' behalwe die bakkery en die slaghuis sluit. Gomes het besluit om saam te werk.
Gomes het begrip vir die inperkingsmaatreëls en hy respekteer dit. Dit het egter gevolge en hy het dit so aan sy klante verduidelik. Van die mense het aan hom gesê dat hulle elke dag 'n warm maaltyd daar gekoop het en dat hulle enkellopend en/of bejaard is.
Hulle het nie die geriewe om self kos te maak nie en buitendien is dit baie goedkoper om 'n reeds voorbereide maaltyd net vir een persoon te koop, as om dit self voor te berei.
Volgens hom het die inperking 'n negatiewe impak op sy onderneming en omset het met sowat die helfte gedaal. Van die personeel is ook tydelik huis toe gestuur, omdat daar nou nie werk vir almal is nie.
Besigheidsure is ook korter. Voorheen was dit van 07:00 tot 22:00. Nou is dit van 07:00 tot 18:00.
Daar is ook minder klante in die winkel. Die situasie word vererger want daar is mense wat nie meer 'n inkomste het en sekere items nie kan bekostig nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'