Lee se familie soek antwoorde. Hoewel die polisie hulle nie in dié stadium teenoor die media wil uitlaat nie, kan die uitslag van die forensiese ondersoek in Lee se dood deurslaggewend wees in moontlike vervolging.
Chris Lee, die oorledene se broer, het aan die George Herald gesê die polisie het aan hom bevestig dat daar nuwe feite op die tafel is wat nuwe lig op die ondersoek werp.
Ten spyte hiervan het kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder Dinsdag gesê die ondersoekbeampte, a.o. Allie du Plessis sê: "Daar is op hierdie vroeë stadium van die ondersoek geen aanduiding dat daar gemene spel betrokke is nie."
"Die geregtelike doodsondersoek kan wel later verander na moord, sou sodanige inligting ontvang word of sou forensiese verslae sodanig feite aandui," het Pojie bygevoeg.
Craig Lee is raaiselagtig dood in sy uitgebrande Renault Megane, voor die huis van sy vriendin, Bianca Oelofse. Die voorval het Saterdagnag ongeveer 20 km van sy eie Hoekwil-woning in Hibuskusstraat, Kleinkrantz, plaasgevind.
Chris Lee het Maandag aan die George Herald gesê dat a.o. Du Plessis aan hom bevestig het dat iemand na aan Lee en Oelofse sekere bekentenisse oor die nag se gebeure gemaak het. Die bekentenisse is bekend aan die George Herald, maar in belang van die polisie-ondersoek word dit nie gepubliseer nie.
Pojie het bevestig dat daar wel gereeld terugvoering gegee word aan die oorledene se vader rakende die vordering met die ondersoek. "Die beweringe wat gemaak is, word tans nog ondersoek en ons wil nie graag die ondersoek vooruitloop nie," het hy gesê.
Pojie het dit ook duidelik gemaak dat die bekendmaking van inligting en die dag-tot-dag vordering van die saak nie deur die polisie met die George Herald bespreek of bekend gemaak sal word nie. "Dit kan die ondersoek ernstig belemmer en in die wiele ry," het Pojie gesê.

Die Renault Megan waarin Lee se erg verbrande lyk gevind is. Die foto toon die motorruit wat uitgeslaan is.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS