GEORGE NUUS - Dr. Ian Venter het homself Dinsdag 17 April wéér in die Thembalethu-streekhof bevind. Dié keer vir die omskepping van sy korrektiewe toesig. Dít spruit uit sy skuldigbevinding verlede Woensdag 11 April in die George-streekhof. Sy skuldigbevinding in dié saak dien as bewyse dat hy sy korrektiewe voorwaardes van 'n vonnis in 2014, verbreek het.
Venter is in September 2014 daaraan skuldig bevind dat hy in Desember 2011 seks met 'n 15-jarige seun gehad het en pornografie aan die seun gewys het.
Hy is in November daardie jaar tot vier jaar korrektiewe toesig, met streng voorwaardes, gevonnis. Een van die voorwaardes was dat hy nie verdere misdade tydens sy korrektiewe toesig mag pleeg nie.
Gedurende hierdie tydperk is Venter skuldig bevind aan seksuele aanranding van 'n minderjarige ná hy op die aand van 11 April 2015 'n 13-jarige seun, wat by sy huis in Heroldsbaai oorgeslaap het, seksueel betas het. Hy moes nog sowat agt maande van sy vorige vonnis uitdien.
Die hof het in 2014 ook gelas dat Venter skadevergoeding van R50 000, in paaiemente van R1 000 per maand, aan die klaer se ouers moet betaal vir mediese onkostes. Volgens hulle is daar nog sowat 10 maande se betalings uitstaande.
Die nuutste Venter-saak is op die hofrol geplaas vir 26 April.
Minagting van die hof
Venter word ook van minagting van die hof aangekla. Hy is in Mei verlede jaar by sy praktyk in die middedorp in hegtenis geneem op aanklag van minagting van die hof nadat dit aan die lig gekom het dat hy steeds kinderpasiënte behandel het.
Tydens sy vonnisoplegging in 2014 het streeklanddros Eugenia Jacobs gesê dat Venter nie met kinders of in die omgewing van kinders mag werk nie.
Op dié aanklag verskyn hy weer môre
(20 April) in die Thembalethu-streekhof. Hy is in November 2014 gevonnis nadat hy skuldig bevind is op 'n seksklag waarby 'n minderjarige seun, toe 15 jaar oud, betrokke was.
Read previous articles:
• Tandarts wéér skuldig
• Seksuele aanranding: Tandarts skuldig
• Tandarts se uitspraak Woensdag
• Streekhofdatum vir tandarts Ian Venter
• Tandarts na streekhof vir minagting
• Tandarts se lot in April bepaal
• Dentist case progression like pulling teeth
• Venter-saak: Uitspraakdatum in 2018 vasgestel
• Opvolg: Ian Venter-saak
• Saak teen Ian Venter uitgestel
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'