Update
GEORGE NUUS - Dr. Ian Venter is gister, Woensdag 11 April, in die George-streekhof skuldig bevind op aanklag van seksuele aanranding van 'n minderjarige.
Terwyl 'n bloedrooi Venter, uitgevat in 'n pak met 'n das, in die beskuldigdebank gestaan het, het streeklanddros Francis Makamandela haar uitspraak gelewer.
Makamandela het gesê hoewel die hof versigtig moet wees in gevalle waar 'n enkelgetuie 'n kind is, het die hof die slagoffer as 'n selfversekerde en intelligente seun, wat nie sy getuienis met venyn afgelê het nie, ervaar.
"Hy het homself nie weerspreek nie en sy getuienis was deurlopend konsekwent. Hy en sy ma se getuienis het ook ooreengestem," het sy gesê.
Die aanklag
Venter is daarvan aangekla dat hy op die aand van 11 April 2015 die 13-jarige seun, wat by sy huis in Heroldsbaai oorgeslaap het, seksueel betas het. Hy het skuld ontken met die verweer dat hy nie geweet het in watter kamer die seun geslaap het nie en nie in die kamer was nie.
Hy het die ligte afgesit en gaan slaap na hy daardie aand die kombuis skoongemaak het.
Getuienis
Die slagoffer het in sy getuienis gesê Venter het die aand van die voorval vir hom gesê om in sy jongste seun se kamer, wat toe leeg was, te gaan slaap. Hy het op die seun se bed gaan sit en vir hom gesê om op sy sy te lê waarna hy hom begin kielie het. Hy het stelselmatig afbeweeg en die seun betas.
Die seun het vir Venter gesê hy hou nie daarvan nie en hom gevra om die kamer te verlaat.
Daarna het die seun die huis verlaat sonder om enigiemand, selfs nie Venter se seun, wat sy vriend was, te vertel nie.
Die slagoffer se ma het in haar getuienis genoem dat sy die volgende oggend eers gesien het dat haar seun tuis is.
"Ek het gedink hy het vroeër huis toe gekom omdat die seuns dalk stry gekry het.
Na 'n ruk kon ek sien iets was nie pluis nie, maar hy wou my nie vertel van die voorval nie."
Sy het vertel dat Venter se seun twee keer by hulle huis was om uit te vind hoekom haar seun kwaad is. "As die seuns baklei het sou hy geweet het hoekom my seun kwaad was," het sy aan die hof gesê. Daarna het Venter self met die slagoffer se ma gaan gesels om te hoor wat aangaan.
Die slagoffer het Venter in hul huis gesien waarna hy by sy ma se kamervenster uitgeklim en weggeloop het.
Met sy terugkeer was Venter steeds daar en het die slagoffer in die waskamer weggekruip.
Volgens sy ma het haar seun vir haar gesê om nie 'n ophef van die situasie te maak nie. Eers ná sy gedreig het om self uit te vind wat gebeur het, het hy haar van die voorval vertel.
Makamandela het in haar uitspraak gesê dat Venter sou kon sien of daar iemand in die kamer was toe hy die ligte afgeskakel het. "Hy het die Venter-woning in die middel van die nag verlaat, weens die seksuele daad wat gepleeg is."
Sy het gesê dat Venter se getuienis te veel onwaarskynlikhede bevat het en die hof met te veel vrae gelaat het. Tydens kruisverhoor het hy vrae ontwyk en soms baie vae antwoorde gegee.
Vorige vonnis
Venter is in September 2014 skuldig bevind dat hy in Desember 2011 seks met 'n 15-jarige seun gehad het en pornografie aan die seun gewys het. Hy is tot vier jaar korrektiewe toesig gevonnis.
Dit is nog nie bekend watter impak die vorige vonnis (2014) op sy vonnisoplegging van 6 Junie sal hê nie.
Sy borgtog is tot dan verleng omdat hy sy kinders se primêre versorger is. 'n Voorverhoorverslag is aangevra deur sy regsverteenwoordiger, John Gillespie.
Hankie Marx het vir die staat verskyn.
Read a related article from WMACA:
Woman and Men Against Child Abuse report
Read previous articles:
• Seksuele aanranding: Tandarts skuldig• Streekhofdatum vir tandarts Ian Venter
• Tandarts na streekhof vir minagting
• Tandarts se lot in April bepaal
• Dentist case progression like pulling teeth
• Venter-saak: Uitspraakdatum in 2018 vasgestel
• Opvolg: Ian Venter-saak
• Saak teen Ian Venter uitgestel