GEORGE NUUSFLITS - Plaaslike noodsaaklike dienste sal Maandag 11 Junie glo geensins deur die beplande landwye staking, deur die Vereniging van Staatsamptenare (VSA) beïnvloed word nie.
Volgens woordvoerders van die plaaslike hospitale, howe, gevangenis- en polisiediens gaan hul werknemers nie aan die staking deelneem nie en verwag hulle geen ontwrigting nie.
Die woordvoerder van korrektiewe dienste in die Suid-Kaap, Johan Pienaar, sê korrektiewe dienste word volgens artikel 71 van die Arbeidswet as ‘n noodsaaklike diens geklassifiseer en lede van dié departement mag nie aan stakings deelneem nie.
"Soos in die geval van ander gevangenisse in die Wes-Kaap is 'n gebruiklikheidsplan in plek indien lede, om welke rede, op die betrokke dag nie vir diens rapporteer nie.
"Werksaamhede en dienste in die gevangenisse sal steeds voortgaan en gelewer word," sê hy.
Volgens die woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, Nadia Ferreira, word werknemers in diens van dié departement ook nie toegelaat om gedurende werksure aan enige staking deel te neem nie.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, sê hoewel hulle die reg van personeel binne die stasies erken om te staak, is daar interne voorskrifte wat polisielede verhoed om aan stakings van hierdie aard deel te neem. "Ons voorspel dat als soos normaal sal voortgaan," sê hy.
Debra Sauer, kommunikasiebeampte van die George-munisipaliteit, het aan die George Herald te kenne gegee dat hulle ook nie enige ontwrigting in enige van hulle afdelings verwag nie.
Die VSA het sowat 244 000 lede en vereis 'n 12% verhoging vir junior werknemers in die eerste jaar, 11% vir vir middelvlak-werknemers en 10% vir senior werknemers. Die staat se voorstel vir 'n salarisverhoging was onderskeidelik 7%, 6,5% en 6%.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'