Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEOS - Jy kon Maandagoggend amper 'n speld hoor val terwyl leerlinge van Laerskool Blanco aandagtig na die bekende rolstoelatleet Alwyn Uys, se lewensverhaal geluister het.
Uys het die afgelope Saterdag aan die Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) deelgeneem en Maandag eers 'n tydjie afgeknyp om met die leerlinge te gesels voordat hy na Kaapstad teruggekeer het.
Tydens die geleentheid is 'n tjek van R7 000 aan hom oorhandig. Die geld is deur leerlinge ingesamel en die grootste deel daarvan sal deur die Walking with Brandon-stigting aangewend word.
Brandon Beack, belowende gimnas, is in Augustus 2012 ernstig in 'n gimnastiekongeluk beseer.
Hy en sy familie het daarna die stigting, 'n nie-regeringsorganisasie, begin. Die stigting beywer hom vir die rehabilitasie van gestremde pasiënte.
Christelle Wepener, 'n gr. 2-onderwyseres by Laerskool Blanco, was die groot dryfkrag agter die insameling van die geld.
Uys en leerlinge is Maandagoggend eers deur die skoolhoof Gerhard Ackerman verwelkom waarna hy Uys aan die woord gestel het.
Die bekende rolstoelatleet Alwyn Uys, Maandag toe hy met leerlinge by Laerskool Blanco gepraat het.
Lewenspad
Uys het reeds 'n lang pad geloop. Hy het in Patensie in die Oos-Kaap grootgeword. Sport en die buitelewe was vir hom belangrik. Hy was 'n belowende sportman en baie is van hom, veral op die rugbyveld, verwag. 'n Loopbaan as rugbyspeler was deel van sy toekomsplanne. In 'n stadium het hy 'n skouerbesering opgedoen en is sy rugbyloopbaan kortgeknip.
Hy het toe sy studies aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi. Op 13 Desember 2014 het sy lewe vir altyd verander. Hy was op pad na Kirkwood en het vir 'n breukdeel van 'n sekonde sy oë van die pad af gehaal. Hy het beheer oor die motor verloor en uit die kar geval. Sy rug is gebreek.
Vir vier maande was hy in die hospitaal en 'n tyd van groot aanpassings het gewag. Daar was baie vrae in sy gemoed en hy het weer by sport betrokke geraak. Dit het baie gehelp.
Volgens Uys is die lewe soos 'n legkaart. Aan die begin, as 'n mens na 'n stukkie van die legkaart kyk, verstaan jy dit nie altyd nie. So was dit in sy eie lewe en later het dinge begin sin maak. Hy het besef dat die Here hom 'n tweede kans gegee het.
Uys het aan leerlinge gesê die Here het altyd 'n plan met jou lewe. Leerlinge moet ook groot droom. Moenie bang wees om groot dinge aan te pak nie. Benewens Uys se deelname aan die OCC, was hy ook die eerste parapleeg in Suid-Afrika wat die Ysterman-kompetisie voltooi het.
Sy woorde aan die leerlinge was ook dat hulle alles moet doen asof dit die laaste keer is wat hy/sy dit doen. "As jy iets doen, doen dit na die beste van jou vermoë."
Kyk twee video's hieronder:
Die bekende rolstoelatleet Alwyn Uys, Maandag toe hy met leerlinge by Laerskool Blanco gepraat het. Foto's: Eugene Gunning
Lees 'n vorige artikel: Rolstoelatleet deel sy lewensverhaal met leerlinge
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'