Die tema vir 2011 is ‘Around the World’ en spanne word aangemoedig om 'n land van hulle keuse te kies vir volgende jaar se Relay. Die spanne sal die tema van die land moet uitbeeld en inligting oor kanker in daardie land moet versamel.
Dit is die vierde Relay wat in George aangebied word en sal plaasvind oor die naweek van 19 en 20 Maart by Carpe Diem se skoolgronde.
Hierdie jaar het meer as 110 spanne deelgeneem. Adele Potgieter, voorsitter van Relay for Life, het tydens die afskop aangekondig dat die aantal spanne vir volgende jaar beperk sal word tot ongeveer 100 aangesien dit die getal spanne is wat maklik op die perseel geakkommodeer kan word.
"Spanne moet gou speel om te registreer om seker te maak van hulle plekke," het sy gesê.
Relay for Life is 'n geleentheid waar spanne van tussen 10 en 15 persone deelneem aan 'n deurnagstap. Die Relay word vir 12 ure aangebied en is vol simboliek. Die son wat ondergaan simboliseer die son wat ondergaan vir 'n kankerpasiënt nadat kanker gediagnoseer is, die donkerte van die nag simboliseer die donker stryd tydens die kankerbehandeling asook die feit dat kanker nooit slaap nie. Die aanbreek van die nuwe dag simboliseer die nuwe dag wat begin vir pasiënte wie se kanker genees is of wat in remissie is. "Die Relay is ook 'n tyd om geliefdes te onthou wat die stryd teen kanker verloor het en om almal bewus te maak van die feit dat kanker oor kleur- en geslagsgrense strek," het Potgieter gesê.
Nuwe status
"Ons beplan om R250 000 vir Kansa in te samel volgende jaar. Kansa George het sopas ‘sentrum met uitnemendheid’-status verwerf. Dit beteken dat al die fondse wat ingesamel word, gebruik word vir onder andere die interimhuis wat onlangs gestig is waar kankerpasiënte kan bly tydens hulle behandelings, stoma- en limfodeemdienste sowel as borsondersoeke en papsmere.
"Verder word rolstoele aan kankerpasiënte uitgedeel sowel as ander benodigdhede wat hulle kortkom."
Om spanne in te skryf, skakel met Babie Lewitton by 082 553 3961. Rig ander navrae oor Relay for Life aan Adele Potgieter by 082 332 0479 of adele.potgieter@nmmu.ac.za.
.jpg)
Die reëlingskomitee vir Relay for Life 2011 is (in die ry van links) Heninrich Muller, Werner Fourie, Jackie Biljon, Sonet Calitz, Adele Potgieter (voorsitter), Daphne Fraser, Antoinette Hofmeyer en Petro Heunis.