GEORGE NUUS - Drie huiseienaars wat vir huurders se agterstallige munisipale waterrekeninge moet opdok, is ontevrede omdat hulle meen die George-munisipaliteit is die oorsaak daarvan.
Volgens die huiseienaars se verhuringsagent, Marili Myburgh van Seeff, is waterlesings vir etlike maande nie gelees nie, of verkeerd gelees by van die huise wat hulle namens hul kliënte verhuur.
Regstellings op die munisipale rekeninge is skielik gedebiteer met die "agterstallige" bedrae. In van die gevalle het die huurders al uitgetrek en is daar nuwe huurders in die huise.
Volgens Myburgh het die munisipaliteit huurders in Palgravestraat ingelig dat hulle verbruik R285,16 beloop, maar die rekening dui 'n heffing van R1 522,99 aan. In Woodlands was die huurders se verbruik slegs R105,70, maar die rekening dui 'n heffing van R980,88 aan. "Die verskille was weens regstellings wat gemaak is."
Huurders in Rensstraat wat 'n heffing van R1 361,90 ontvang het, is ingelig dat dit as gevolg van regstellings van 'n lesing so ver terug as Februarie 2018.
Die huiseienaars voel dat hulle nie die uitstaande bedrae behoort te vereffen nie, aangesien die munisipaliteit verantwoordelik is om toe te sien dat lesings reg gedoen word.
Die munisipaliteit hou voet by stuk dat die eienaar verantwoordelik bly vir alle verbruik wat gemeet word by sy/haar perseel.
"Skuld wat oploop aangesien meters nie gelees kan word nie, bly die verantwoordelikheid van die eienaar. In terme van die kredietbeheer- en skuldinvorderingsbeleid wat handel oor meterlesing, word regstellings op 'n rekening aangespreek. Die drie gevalle wat genoem word, is hanteer en die kliënte sal dienooreenkomstig ingelig word."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'