GEORGE NUUS - 'n Miljoen Amerikaanse dollar, wat teen die huidige wisselkoers meer as R15 miljoen (R15 499 300) is, kan voor die einde van die jaar in die munisipale geldkoffers beland.
Om dit egter reg te kry, sal die stadsvaders eers suksesvol moet wees in 'n internasionale kompetisie waaraan 500 stede van oor die wêreld deelneem.
Dit staan bekend as, The Global Mayors Challenge, en word onder die vaandel van Bloomberg Philanthropies aangebied. Dit is deur Mike Bloomberg, 'n vorige burgemeester van New York, geskep.
George-burgemeester, Leon van Wyk, het verlede Donderdag, 4 Maart tydens 'n virtuele ontmoeting met die sakegemeenskap daarna verwys.
Van Wyk het op Maandag 8 Maart tydens 'n gesprek met George Herald meer besonderhede verskaf.
Volgens Van Wyk kyk die organiseerders na van die uitdagings wat in stede voorkom.
Dit word geanaliseer en oplossings word aangebied. Dit vind plaas teen die agtergrond van Covid-19 en gee aandag aan ekonomiese en sosio-maatskaplike uitdagings.
George het besluit om deel te neem en was suksesvol in die eerste deel. Deelnemende stede moet 'n span van tussen drie en vyf mense inskryf. George het verlede Maandag, 1 Maart, deelgeneem aan 'n virtuele werksessie en moet teen 21 Maart 'n formele voorlegging indien.
Daarna sal 'n kortlys van 50 gemaak. Dan is daar 'n verdere proses waarna 15 oorbly. Elkeen van die 15 stede ontvang 'n miljoen Amerikaanse dollar.
Die uitslag sal teen die einde van die jaar bekend wees.
George fokus in sy inskrywing op toerisme en die effek op werksgeleenthede en hoe herstel kan plaasvind.
"Dis 'n redelike groot kompetisie," het Van Wyk gesê.
Die stadsraad/munisipaliteit sal in die volgende dae onderhoude en gesprekke voer met belanghebbendes in die toerismebedryf as deel van die kompetisie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'