Update
HEROLD NUUS - Ongeveer 60 ouers van Franken Primêr, wat ongelukkig is oor die voorgenome verkoop van die skool deur die De Villiers Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK), het op Maandag 30 November die skoolhekke gesluit sodat leerders nie die gronde kon betree nie.
Die prinsipaal, Moses Carolus, het by navraag gesê die ouers wou sekerheid kry oor die toekoms van die skool. Dit kom nadat ds. David Elias, leraar van De Villiers VGK, tydens die afgelope drie Sondae se eredienste afgekondig het dat onderhandelings vir die verkoop van die skool aan die gang is.
Op die oomblik betaal die Wes-Kaapse departement van onderwys huur aan die kerk. Die grond waarop die kerk en skool geleë is, is jare gelede deur 'n boer geskenk en aan die kerk oorgedra.
Die skool het 330 leerders. 'n Swaard van onsekerheid hang al 'n geruime tyd oor die toekoms van die skool weens gerugte dat die eienaar van die buurgrond, Herold Meander-direkteur Theo Adams, dit wou koop om by sy voorgenome ontwikkeling te inkorporeer.
Adams het egter op Maandag 30 November in 'n verklaring gesê dat hy nie die skool wil koop nie. Sy ontwikkelingsplanne, wat nie die skool insluit nie, was reeds ter insae vir die publiek tydens die ontwikkelingsaansoekprosesse.
Volgens 'n ongelukkige gemeentelid bepaal die Kerkorde dat die verkoop van kerkeiendom slegs deur die verkreë toestemming van die gemeente mag geskied. "Daar moet drie agtereenvolgende afkondigings in die gemeente wees. Daarna volg 'n gemeentevergadering waartydens 'n tweederde meerderheid van die gemeente teenwoordig moet wees."
In 'n skrywe aan die skriba verlede week is 'n groot aantal gemeentelede se ontevredenheid verwoord. Volgens die brief voer hul leraar aan dat die kerk die skool "nie langer kan dra" nie, maar hulle mening is dat die skoolhuur 'n volhoubare inkomste aan die gemeente verskaf.
Ouers het Franken Primêr in Herold se hekke met 'n slot gesluit.
Nadat die Wes-Kaapse onderwysdepartement Maandag die ouers ingelig het dat hulle met die eienaar van die eiendom onderhandel, is die hekke oopgesluit en kon die kinders om 09:15 ingaan. Die onderwysdepartement het by navraag aan George Herald bevestig dat hulle saam met die departement van openbare werke met die kerkraad onderhandel oor die verkoop van die skool.
Onderhandelings is ook aan die gang om 'n huurooreenkoms met die kerk aan te gaan wat sal geld tot die proses afgehandel is.
Vorige artikel | Franken Primêr: Skooldag begin laat toe ouers skoolhekke sluit
'Ons bring jou die nuutste Herold, Tuinroete nuus'