HEROLD NUUS - Ongeveer 60 ouers van Franken Primêr, wat ongelukkig is oor die voorgenome verkoop van die skool deur die De Villiers Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK), het vanoggend (Maandag 30 November) die skoolhekke gesluit sodat leerders nie die gronde kon betree nie.
Die prinsipaal, Moses Carolus, het by navraag gesê die ouers wou sekerheid kry oor die toekoms van die skool. Die Wes-Kaapse departement van onderwys, wat huur aan die kerk betaal, het egter laat weet dat hulle in onderhandelings is met die eienaar van die eiendom.
Daarna het die ouers die hekke oopgesluit en kon die kinders om 09:15 binnegaan.
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het by navraag bevestig dat hulle tans saam met die Departement van Openbare Werke met die kerkraad onderhandel oor die verkoop van die skool. Onderhandelings is ook aan die gang om 'n huurooreenkoms met die kerk aan te gaan wat sal geld tot die proses afgehandel is.
Theo Adams, direkteur van Herold Meander, eienaar en ontwikkelaar van die buurgrond, het 'n verklaring uitgereik waarin hy beklemtoon dat Herold Meander nie van plan is om die skool te koop nie. Dit was in reaksie op bewerings dat hy die skool wil koop om by sy voorgenome ontwikkeling te inkorporeer.
Die planne, wat nie die skool insluit nie, was reeds ter insae vir die publiek tydens die ontwikkelingsaansoekprosesse. Hy het gesê sy voorstel is dat die onderwysdepartement Franken Primêr koop en amalgameer met Laerskool Herold, want die twee aparte skole is 'n nalatenskap van apartheid.Die leerders staan tou. Hulle is om 09:15 ingelaat.
Die skool is oor jare deur die ouers, onderwysers en gemeenskap opgebou nadat 'n boer die grond in 1933 beskikbaar gestel het vir kerk- en skooldoeleindes. Dit is later aan die kerk oorgedra.
Ds David Elias, gemeenteleraar, het in die afgelope drie eredienste 'n afkondiging gemaak dat die skool wel verkoop gaan word. Hy wou verlede week nie kommentaar lewer oor die ontevredenheid van die gemeenskap nie.
Franken Primêr is die gemeenskap op Herold se trots. Onsekerheid oor die toekoms van die skool het gelei tot groot ontevredenheid.
'Ons bring jou die nuutste Herold, Tuinroete nuus'