By 'n geselligheid in Transnet se Outeniqua Vervoermuseum, het almal deur die bank saamgestem dat hulle hierdie vriendelike kollega gaan mis.
Hy het diep spore by Transnet, waar hy 38 jaar gewerk het, getrap en tree aan die einde van die maand af.
"Daantjie" is deur almal teenwoordig beskryf as 'n vriendelike, behulpsame man wat altyd gereed was om van diens te wees, of om probleme op te los.
"Daantjie, ons gaan jou vriendelike glimlag mis," was die boodskap van die kollegas Donderdag. "Nou begin die volgende hoof-stuk en jy kry 'n nuwe baas," het hulle goediglik gespot.
Sy onmiddellike hoof, AP Marais wat van Port Elizabeth gekom het om 'n afskeidsgeskenk te oorhandig, het hom voorspoed toe gewens. Sy eggenote Cathy Wilcken het vertel dat hulle bietjie die pad gaan vat om die land te verken. Die bure en vriende sal dus na hul huis in Campher (naby Herold) in die Outeniquaberge kyk, terwyl hulle vakansie hou. By terugkoms sal hulle heelwaarskynlik hul roos-omringde huis verruil vir 'n huis in George.
Ondanks sy besige werksdag, het Danie twee Campher-kinders onder sy vlerk geneem, en al twee daagliks 'n geleentheid na George se skole gegee, sowel as vir die studies van een betaal.
Boonop het hy gesorg dat een van hulle 'n werksgeleentheid kry toe dié op moedverloor-se-vlakte was. Dus aan deernis ontbreek dit by hom nie.
Danie het sy kollegas bedank vir hul vriendskap en aangename tyd in Cradock, Port Elizabeth, Kaapstad sowel as George, waar hy tans as loodgieter werk.

Danie Wilcken word deur Transnet-kollegas voorspoed toegewens op sy 'afskeidspoorpaadjie'. Daar is op gepaste wyse totsiens gesê op Donderdag, met heerlike versnapperinge wat deur die plaaslike Lionsklub verskaf is by Outeniqua Vervoermuseum.
ARTIKEL: PAULINE LOURENS, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'