GEORGE NUUS - Die afgelope naweek het nie net reën vir die Suid-Kaap gebring nie, maar ook dood op die streek se paaie.
In George het 'n voetganger, 'n 17-jarige seun, onder vreemde omstandighede op die N2 gesterf en is sy liggaam daarna deur voertuie van niksvermoedende motoriste getref. Lees die artikel hier.
Twee sake van roekelose en/of nalatige bestuur word ook ondersoek na ongelukke elders in George.
Op die N2 naby Albertinia is twee kinders in 'n motorongeluk dood en nog 'n ongeluk in Hartenbos, het die lewe van 'n man geëis.
Motorfiets bots met bus in George
'n Saak van roekelose en/of nalatige bestuur word ondersoek ná 'n ongeluk omstreeks 03:30 Saterdagoggend by die verkeersirkel by die Sasol-vulstasie in Kraaibosch.
Volgens George-polisie se kommuniskasiebeampte, kapt. Nolonwabu Tshengu, is 'n 28-jarige man beseer na sy motorfiets 'n wit Mercedes-bus getref het.
Die motorfietsbestuurder is na die hospitaal afgevoer. Niemand anders is beseer nie.
Die wrak van die motorfiets na die ongeluk Saterdagoggend by die verkeersirkel by die Sasol-vulstasie in Kraaibosch.
Ongeluk in Rosedale
Twee voertuie het Saterdagaand, 28 September, in Genesisstraat, Rosedale, reg van voor gebots. Die botsing het omstreeks 23:10 by die aansluiting van Genessisstraat en die hoofpad wat lei na die munisipale-rioolwerke, plaasgevind.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, is die 42-jarige bestuurder van 'n Toyota-bakkie (42) op die toneel vir dronkbestuur in hegtenis geneem. "'n Voorlopige alkoholtoets deur verkeersbeamptes het bevestig dat die man onder die invloed was," sê Pojie. Die bakkie het met ‘n Chevrolet Spark gebots. Die vroulike bestuurder van die Chevrolet is in 'n ernstige toestand na die hospitaal afgevoer . Die bestuurder van die bakkie is Sondagoggend aangekla en op 'n waarskuwing om op 29 Oktober in die George-landdroshof te verskyn, vrygelaat. Die ondersoek duur voort.
Kinders sterf naby Albertinia
Niggie en nefie, Leejane November (18) en Monte Elbrink (8) is Sondagoggend, 29 September omstreeks 07:00 oorlede toe 'n bakkie en 'n ligte motorvoertuig mekaar reg van voor getref het. Daar word vermoed dat die motor se band gebars het waarna die bestuurder van die voertuig beheer verloor het.
Die Wes-Kaapse verkeershoof, Kenny Africa, sê die N2 was vir 'n geruime tyd vir verkeer gesluit. Die omstandighede rondom die ongeluk word ondersoek.
Man dood in Hartenbos
'n Man het in die hospitaal aan sy beserings beswyk ná sy motor Sondagoggend, 29 September, 'n boom getref het. Die oorledene, Duncan Burrows (33), is in 'n kritieke toestand na 'n plaaslike hospitaal geneem ná die ongeluk op die hoek van Damara- en Riemlandstrate in Hartenbos. Hy is later die dag in die hospitaal oorlede.
Twee kinders is Saterdagoggend dood in 'n motorongeluk op die N2 naby Albertinia. Foto: Heinrich Fortuin
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'