GEORGE NUUS - Is die tienerseun, Dario Sauerman (17) van Rosedale, wat Vrydagaand op die N2-snelweg naby Pacaltsdorp gesterf het, geskiet voordat hy deur verskeie voertuie getref is?
Dit is die vraag waarmee sy bedroefde ma, Yolandie Sauerman, worstel.
Sauerman sê sy het gedink iemand maak 'n siek grap toe sy Vrydagaand, 27 September, 'n oproep kry om haar die tyding van haar seun se dood te gee.
Dario, 'n gr. 11-leerder aan Hoërskool Parkdene, is dood toe hy en vriende laatnag op pad terug was na Rosedale van 'n winkel in die Pacaltsdorp-nywerheidsgebied.
Volgens sy vriende is daar vanuit 'n wit VW Polo op hulle geskiet en is Dario getref. Hulle sê die voertuig, wat in die rigting van Mosselbaai na George gery het, het stadig aangery gekom en aanhoudend sy ligte geflikker. Hulle was nie seker of dit was om hulle te waarsku en of die persoon gedink het hulle wou hom of sy voertuig skade aandoen nie. Dario was reeds oor die snelweg by die beginpunt van die Pacaltsdorp-afrit toe hy neerval - vermoedelik weens 'n skietwond in die kop.
Die trauma van die aand is nog vars. Dario se bloed op die teerpad en hoe die eerste voertuig bo-oor hom ry spook by sy maats. Die knal van die drie skote -een om hulle glo te waarsku en twee in hulle rigting - is nog helder in hul ore.
"Ons het daarna in die pad gestaan om 'n kar wat aankom stadiger te laat ry, maar wie gaan vir 'n groep jong ouens in die nag op 'n stil pad stop? Ons verstaan hoekom die ou nie wou stop nie. Hy het toe bo-oor hom gery," vertel een van die vriende, erg ontsteld.
Die bestuurder het naby die toneel gestop, maar weer aangery en die voorval by die Pacaltsdorp-polisiekantoor aangemeld. Hy was glo nie seker waaroor hy gery het nie.
Die groepie vriende het dadelik die Rosedale-buurtwag ingelig en die buurtwag is na die toneel. Hier is die George-brandweer en redding gekontak.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê daar is voorlopige 'n saak van strafbare manslag geopen. "Op die stadium is daar geen bewyse dat die oorledene geskiet is, behalwe vir die bewerings wat gemaak word. Hierdie bewerings moet egter getoets word en vorm tans deel van die ondersoek. Die staatspatoloog is besig met die nadoodse ondersoek. Sodra dit afgehandel is en die uitslag bekend is, kan die dossier verander word na een van moord, sou verdere leidrade en bewyse na vore kom," het Pojie gesê.
Sauerman beskryf haar enigste seun as "'n lieflike kind wat onlangs weer sy lewe reg begin leef het, veral nadat hy 'n meisie ontmoet het".
Hy laat sy ouers en twee susters agter.
Yolandie Sauerman kon haar trane nie terughou terwyl sy oor die laaste dae van haar seun se lewe gesels het nie. Foto: Salette Cloete
Hoërskool Parkdene het gister hul medelye met die Sauerman-familie betuig.
"Dit is met absolute skok en hartseer dat ons verneem het van die ontydige heengaan van Dario. As skoolgemeenskap wil ons graag ons diepe medelye teenoor sy familie en vriende betuig. Dario was 'n sagte en vriendelike leerder. Sag rus sy siel," het Jolene le Kay, 'n opvoeder van die skool, gister gesê.
Die skool hou vandag, Donderdag 3 Oktober, om 11:00 'n roudiens in die skoolsaal.
Die begrafnis begin komende Saterdag, 09:00 by sy ouerhuis in Rosedale in Geelhoutstraat en 10:00 by Hoërskool Parkdene se skoolsaal.
Lees 'n vorige artikel: Rosedale-seun dood op N2
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'