GEORGE NUUS - 'n Grusame toneel het die polisie en plaaslike brandweer in die vroeë oggendure op die N2-snelweg naby Rosedale gegroet waar 'n seun (17) van Rosedale blykbaar omgery was.
Die oorledene, wat in Rosedale woon, is 'n graad 11-leerder aan Hoërskool Parkdene. Volgens inligting het verskeie voertuie oor die seun gery.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.
Pojie sê die Pacaltsdorp polisie was op die toneel waar die liggaam van die tiener gekry is. Hy sê 'n saak van strafbare manslag is geopen. “Die omstadighede rondom die voorval is nog onduidelik en word ondersoek,” sê hy.
'n Verteenwoordiger van Rosedale-buurtwag sê hulle is rondom 12:00 vannag deur die seun se vriende ingelig van die voorval. Op die toneel het hulle die George-brandweer geskakel wat op hul beurt die polisie gekontak het.
Dit is onduidelik wat presies gebeur het voor die ongeluk.
Debra Sauer, 'n woordvoerder van George munisipaliteit het bevestig dat die brandweer op die toneel was.
Gerugte op sosiale media
Gerugte op sosiale media dat die oorledene uit 'n bewegende motor gegooi is, of dat hy wou wegkom van persone wat op hom en sy vriende geskiet het toe hy omgery is, kon nie bevestig word nie.
Pojie sê beweringe dat daar op die oorledene en sy vriende geskiet is, vorm wel deel van hul ondersoek .
Oor die onsensitiewe gerugte oor die beserings van die seun, vra Pojie dat mense hulle moet weerhou daarvan om dit te versprei. Wat Pojie wel bevestig het, is dat die seun se kop verbrysel is met die impak van die botsing.
"Alle verdere moontlikhede rondom die voorval word ondersoek.” Enigiemand met inligting wat kan help met die ondersoek, kan ao. W Van Schalkwyk by die Pacaltsdorp-polisie kontak by 044 803 9137.
*Die storie is aangepas.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'