GEORGE NUUS - Te danke aan twee weldoeners van George, Lazanne Thiart en Amanda Muller spog Badisa-sorgsentrum met twee splinternuwe naamborde. Die naamborde is op Dinsdag 24 November deur Muller, van Signage Girls in George, aan Badisa se Fanie Jordaan oorhandig.
"My kliënt, Lazanne [Thiart], het my bewus gemaak dat Badisa se borde sleg lyk en kliënte nie altyd kan sien waar hulle geleë is nie. Soos almal weet is Badisa 'n nie-winsgewende organisasie en afhanklik van donasies en borge. Ons kon nie anders as om hulle te help nie," sê Muller.
Volgens Jordaan, Badisa se hoof, het Covid-19 'n groot impak op hulle organisasie gehad. Hulle is hoofsaaklik finansieel afhanklik van donasies, skenkings en fondsinsamelings, maar weens die regulasies kon dit nie geskied nie.
"Tuisbesoeke by kliënte was beperk tot slegs noodgevalle, kommunikasie met kliënte het geskied deur gebruik te maak van oproepe, e-posse en sosiale media. Dit was egter 'n groot uitdaging aangesien nie al ons kliënte oor die nodige tegnologie beskik nie.
Aanmeldings en nuwe kliënte was ook beperk by die kantoor," sê hy.
Enigiemand wat 'n bydrae tot Badisa wil lewer word gevra om die volgende te skenk:
- Kospakkies vir hul kliënte
- Skryfbehoeftes vir die kinders.
- Skooldrag vir die kinders
- Persoonlike beskermende toerusting, bv. handreinigers
- Veiligheidsouers en pleegouers vir kinders
- Finansiële ondersteuning.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'