Update
GEORGE NUUS - Die George-raad moet self besluit of hulle wil hê Melvin Naik moet aanbly as burgemeester. Só het die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, in gesprek met die George Herald gesê, na sy besoek Maandagmiddag aan die George-raad se DA-koukus.
Die DA se provinsiale uitvoerende komitee (PUK) het Naik vir 60 dae van alle DA-aktiwiteite geskors, hangende die ondersoek van die Valke. Hierdie skorsing het Maandag begin, op dieselfde dag wat hy terug is op kantoor na 'n maand se verlof. Naik was sedert die Valke se klopjag op George-munisipaliteit, op 23 April, met verlof.
Volgens Bredell het die skorsing geen invloed op sy normale werkspligte as burgemeester nie en mag Naik raadsvergaderings bywoon. Naik het Dinsdagmiddag die begroting vir 2018/2019 tydens 'n spesiale raadsvergadering ter tafel gelê. Hy mag wel nie DA-koukusvergaderings bywoon nie.
'n George-raadsvergadering vind vanoggend (31 Mei) plaas. George-speaker, Gerrit Pretorius, het bevestig dat die ANC 'n mosie van wantroue teen homself as speaker en die onderburgemeester, Charlotte Clarke, ingedien het. Pretorius het by navraag gesê die opposisieraadslede kan steeds 'n dringende mosie van wantroue teen die burgemeester indien, maar hy sien geen rede hoekom hulle dit sou wou doen nie.
Diep gesprekke
Die DA-koukus kon Maandag hul harte uit praat en vrae vra tydens Bredell se besoek. Een van hul knelpunte was die kwessie rondom Naik.
"Ek het die koukus aangeraai om nie te begin argumenteer nie. Ja, dit is so dat 'n mens onskuldig is totdat jy skuldig bevind is, maar hulle moet onthou as daardie persoon skuldig bevind word, is hy op sy eie," het Bredell gesê.
"Die feit bly staan wanneer die Valke 'n lasbrief vir 'n deursoeking en beslaglegging bekom, is daar genoegsame bewyse. As ons hom (Naik) nie uithaal nie begin elke vergadering oor die Naik-saga en kan ons nie fokus nie." Bredell het benadruk dat die Wes-Kaapse DA-leier, Bonginkosi Madikizela, hierdie punt ook onderskraag. Hy het gesê die hoofrede vir sy besoek was om die koukus te help om op raadsake te fokus.
"'n Koukus kan maklik fokus verloor. Ons gesamentlike doelwit is om armoede te hanteer. Ons het 'n houding van geen verdraagsaamheid teenoor korrupsie. Korrupsie steel van die armstes van die armes. Belasting is daar om dienste te lewer en om gelykheid te bewerkstellig. Ons gaan nooit aan die voorkant van hierdie golf kom as ons nie baie ernstig is oor korrupsie nie. Ons tree op in belang van die mense."
Rapporteer aan raad
Volgens Bredell is die koukus ook daaraan herinner dat hulle aan die raad moet rapporteer, ongeag die hoeveelheid inligting tot hul beskikking. Dit volg nadat die onderburgemeester, Charlotte Clarke, tydens die laaste raadsvergadering versuim het om oor die Valke se klopjag te rapporteer. "Dit is 'n wetlike aspek en ons het hieroor gedebatteer," het Bredell gesê. "Ons het 'n duidelike standpunt hieroor ingeneem."
Bredell het gesê hy het lanklaas met Naik gesels. "Ek is versigtig vir gesprekke, want mense sê vinnig jy meng in. Die raad moet self besluit of hulle wil hê hy moet as burgemeester aanbly."
Bredell het gesê hy is nie bekommerd oor die Valke se ondersoek nie, want hulle het al die inligting wat hulle moet hê. "Hulle moet hulle professionele werk doen," het hy gesê. "Hulle kan ook nie al hulle kaarte op die tafel sit nie, want dit kan die ondersoek belemmer."
Valke-woordvoerder, kapt. Philani Nkwalase, het bevestig dat die ondersoek steeds aan die gang is. "Wanneer dit voltooi is sal ons 'n persvrystelling bekendstel rakende moontlike inhegtenisnames."
Lees 'n verwante artikel: Mayor suspended for 60 days from DA activities
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'