Update
GEORGE NUUS - Sy vrou en sy dogter het op die ongelukstoneel afgekom kort ná Marius Geldenhuys (39) Woensdagaand, 19 Februarie, 'n voertuig met sy motorfiets getref het.
Die ongeluk het op die brug tussen die Garden Route Mall en Kraaibosch se Sasol-vulstasie plaasgevind toe Geldenhuys, 'n lid van die Locals-motorfietsklub, op pad huis toe was na hy sy vrou se kar in Wilderness reggemaak het.
Sy vrou, Salomé en hul dogter, Sunica, was in Kleinkrantz om Sunica se matriekafskeidrok aan te pas toe hul voertuig begin probleme gee het.
Hulle het hom geskakel en hy het met sy motorfiets gery om hulle te gaan help.
Op pad huis toe het Geldenhuys 'n motor, wat uit die rigting van George gekom het en na regs op die N2 wou afdraai, aan die passasierskant getref. Die motor het glo voor hom ingery. Minute later het sy vrou en dogter, wat op pad huis toe was vanuit Wilderness, op die toneel aangekom en hom tussen die gras langs die pad gevind.
Hoewel paramedici alles in hul vermoë gedoen het om Geldenhuys se lewe te red, is hy op die toneel dood verklaar.
'n Gedenkdiens word vanmiddag, Donderdag 27 Februarie, om 15:00 by die Biker's Church in Derdestraat gehou.
"Ons gaan hom ontsettend mis. Hy was nie net die beste pa vir ons twee kinders nie, maar my eggenoot, my sielsgenoot en my beste vriend," het sy vrou gesê.
Locals-motorfietsklub se president, Rainey Munnik, sê hy sal Geldenhuys altyd onthou as 'n opregte mens wat altyd almal probeer help het.
"Hy was so vyf jaar deel van ons klub. Hy was altyd betrokke met reëlings van klubgeleenthede. Marius was altyd daar vir ander mense en hy laat 'n groot leemte onder sy vriende en familie. Hy het met almal oor die weg gekom en gehelp waar hy kon. Ons gaan hom baie mis," sê hy.
Geldenhuys het sy vrou, Salomé en sy kinders, Sunica (18) en Marcell (8), agtergelaat.
Die voertuig waarin Geldenhuys vasgery het.
VORIGE ARTIKEL: Local biker to be laid to rest on Thursday
'We bring you the latest George, Garden Route news'