GEORGE NUUS - Dinsdagoggend het op 'n slegte noot vir GO GEORGE en 'n motoris afgeskop toe 'n grys Volkswagen Polo se neus opgefrommel is nadat hy met die agterkant van die bus kennis gemaak het.
Die ongeluk het omstreeks 07:15 by die bushalte in Memoriumstraat naby Emmaüs plaasgevind.
Suné Soonies (35) was onderweg om haar negejarige dogter skool toe te neem toe die bus blykbaar skielik voor haar stop.
"Ons het teen so 40 km/h gery. Die bus was al 'n ent verby die bushalte toe hy skielik stop. Ek het my volgafstand gehou, maar kon nie uitswaai of betyds rem nie.
"As ek uitgeswaai het sou ek in aankomende verkeer ingery het," het sy aan die George Herald vertel.
Die pad was nat, die motor het gegly en onder die agterste deel van die bus beland.
Die impak van die slag het die lugkussings laat ontplooi.
Albei voertuie het in 'n suidelike rigting beweeg toe die ongeluk plaasvind.
Soonies is deur nooddienste per ambulans na die George-hospitaal geneem waar sy vir ligte beserings behandel is.
"Ek is styf, seer en gekneus. Die sitplekgordel het my maag gesny. My nek, rug en bene is ook seer."
Volgens konst. Rachel Hendriks, George-polisie se mediabeampte, het die busbestuurder aan die polisie gesê 'n ander voertuig het voor hom ingeswaai en hy moes blitsig remme aanslaan.
Met die polisie se aankoms het die insittendes van die bus reeds die toneel verlaat.
In 'n verklaring deur GO GEORGE sê die munisipale mediabestuurder, Chantel Edwards-Klose, dat die bus stilgestaan het by die halte ten tye van die ongeluk.
Geen GO GEORGE-personeel of passasiers is beseer nie.
Memoriamstraat was gedurende die ongeluk oop met gereguleerde verkeer. Die beskadigde motor moes deur 'n insleepdiens verwyder word.
Die busdiens doen 'n beroep op motoriste om ekstra waaksaam te wees wanneer daar agter of langs die busse gery word aangesien motoriste nie kan sien wat voor die bus in die pad aangaan nie.
Read a previous article: Motor ry in GO GEORGE-bus vas
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'