Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Al die onbeantwoorde vrae oor die digter Ingrid Jonker en haar lewe word ondersoek in die nuwe volledige biografie oor haar lewe. Die biograaf, Petrovna Metelerkamp, het Saterdag by die George-biblioteek 'n groep vroue toegespreek oor die biografie en die skryfproses. Die vroue het behoorlik aan haar lippe gehang. Hierdie is Metelerkamp se derde en mees omvattende boek oor Jonker. Sy het die afgelope 24 jaar navorsing oor Jonker se lewe, liefdes en dood gedoen.
Sy beskryf die digter se geskiedenis en verduidelik dat daar diepgaande sielkundige redes was vir die begaafde digter se depressie, asook haar liefdesverhoudings met die skrywers Jack Cope en André P. Brink.
"Die Hollanders sê die boek is 'uitputtend'. Met 430 bladsye kan dit seker so wees, maar alles wat 'n leser wil weet, word aangespreek in hierdie boek," sê sy. Sy dink nie daar is 'n persoon wat vir Ingrid Jonker geken het vir wie sy nie probeer kontak het nie. Metlerkamp sê sy ag haarself gelukkig dat meer as een hul jare lange stilswye gebreek het om met haar oor Jonker te praat.
Jonker se lewe het 'n reuse-impak op haar gehad. "Ons lees om onsself te verstaan," sê Metelerkamp. "Selfs 'n kort, ligte liefdesverhaal het op een of ander manier 'n invloed en help ons om onsself beter te verstaan."
Sy sê dat haar ontdekkingsreis rondom Jonker se lewe 'n invloed het op die besluite wat sy neem. Soos sy gevorder het met die navorsing, het haar klem verskuif van blote nuuskierigheid tot empatie met hierdie begaafde, dog "ongebalanseerde" vrou.
Die dames in die gehoor luister aandagtig na Metelerkamp se vertellings.
Metelerkamp is verlig dat sy die hoofstuk oor Ingrid Jonker nou kan afsluit. Sy het 'n hele paar ander projekte waarna sy uitsien, waaronder die omskrywing van haar drama oor 'n walvisvrou in biografie-vorm, 'n outobiografiese boek oor hoe haar eie lewe beïnvloed is deur haar kinderjare en haar ouerhuis, en 'n "heerlike" roman.
Kyk 'n video hieronder:
Lees vorige artikels hier:
"Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'