GEORGE NUUS - Die 42-jarige sakeman van George wat skuldig bevind is aan die verkragting van sy biologiese dogter, is verlede Donderdag 30 November in die George-streekhof lewenslank tronkstraf opgelê.
Die beskuldigde het sy dogter tussen 2012 - toe sy 14 jaar oud was - en 2015 herhaaldelik verkrag, onder andere by sy huis en sy onderneming in die nywerheidsgebied.
Die slagoffer, toe 16 jaar oud, het eers haar ouma van die seksuele misbruik vertel. Die volgende dag het sy die skool se maatskaplike werker vertel en dieselfde aand haar ma.
Die pa is kort daarna, op 7 Mei 2015, by sy huis in hegtenis geneem.
Klagtes en vonnis
Die man is skuldig bevind op twee aanklagte van verkragting, twee van kindermishandeling en een van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Hy het sy vrou van 1999 tot 2015 aangerand en sy seun en dogter albei oor 'n lang tydperk mishandel.
Bykomend tot die lewenslange vonnisse is hy vir elk van die ander drie klagtes 12 maande tronkstraf opgelê. Dié vonnisse word samelopend met die lewenslange vonnis uitgedien. Hy sal dus eers oor 25 jaar, in 2042, vir parool in aanmerking kan kom.
Twee aanklagte van verkragting
Die eerste aanklag van verkragting spruit uit die feit dat die beskuldigde die slagoffer reeds herhaaldelik verkrag het toe sy minderjarig was. Die tweede aanklag van verkragting is omdat hy haar herhaaldelik verkrag het ná sy 16 was.
Hy moes hulle beskerm
Streeklanddros JH Breyl het dit as een van die mees tragiese gevalle waarby hy nog betrokke was, beskryf. Hy het gesê dit is 'n pa se plig om na sy gesin om te sien, hulle te beskerm en om seker te maak sy kinders het die vooruitsig van 'n normale toekoms as volwassenes.
"Dit blyk dat al wat hiér oorgebly het 'n ongelukkige en verskeurde gesin is."
Albei die kinders, hul ma, hul oumas en oupas, asook 'n sielkundige, Christie Els, het tydens die verhoor getuig. Volgens die slagoffer-impakverslag is die dogter erg getraumatiseer en word sy vir depressie behandel.
Sy is bang vir ouer mans en wil nie alleen wees nie. Sy toon selfmoordneigings en sal nog vir baie lank behandeling moet kry. Sy neem haar pa kwalik dat hy haar van haar toekoms ontneem het. Sy en haar ma het vir lewenslange tronkstraf gehoop.
*The local businessman (42) convicted of two charges of rape of his daughter, was sentenced to life imprisonment on Tuesday 30 November in the George Regional Court.
Klik hier vir vorige artikels:
- Lewenslank vir pa wat dogter verkrag
- Pa skuldig aan verkragtig van dogter
- Pa wat glo verkrag weer later in hof
- Pa wat glo verkrag weer in hof
- Pa wat vriendinne glo verkrag Maandag in hof
- Man vas vir pornografie in hofselle aangerand
- Opvolg: Man vas vir kinderpornografie
- Child porn scandal hits George
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'