GEORGE NUUS - Laerskool George-Suid se senior- sowel as juniorkoor het verlede naweek, 13 tot 14 September, baie goed presteer tydens kykNET se Sing in Harmonie-streekfinale wat in Port Elizabeth plaasgevind het.
Daar was agt kore in elke kategorie. Die juniorkoor het algeheel tweede geëindig en die seniorkoor het hulle afdeling gewen. Die juniorkoor wen ook die prys vir die beste nie-Afrikaanse lied.
Die seniorkoor dring nou deur na die eindronde wat in Johannesburg sal plaasvind. Beide hierdie kore is ook gekies om deel te wees van kykNET Uitblinkers-program waar hulle deel gaan vorm van 'n Kersprogram en saam met die sangeres, Nadine, gaan optree.
Calvin Steyn, die afrigter van die seniorkoor sê: "Trotser kan ek nie wees nie, dis alles te danke aan die kinders." Die juniorkoor word afgerig deur Surika Louw. Beide kore word begelei deur Sanri Oosthuizen.
Die seniorkoor van Laerskool George-Suid wat die Sing in Harmonie-kompetisie gewen het.
Mnr Sas du Plessis, Skoolhoof, Laerskool George-Suid, skryf die volgende:
Musiek, koorsang, goeie dissipline en baie harde werk deur onderwysers, ouers en kinders het die weg gebaan dat kinders hulself kon uitleef. Die televisie-opname van die kompetisie het kinders die geleentheid gebied wat nie vantevore beskore was nie. Kinders van graad 1 tot 3 het ook die geleentheid gekry om busvervoer te ervaar. Dink net die opgewondenheid onder elkeen.
Die ervaring en vinnige hartklop om in die gehoor te sit wanneer die uitslae gelees kan met die van ‘n sportwedstryd vergelyk word. Natuurlik was die bonus dat die kore so fantasties presteer het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'