GEORGE NUUS - Twee Kwagga-matriekleerders, wat Vrydag 29 Oktober in 'n ernstige motorongeluk in die middedorp betrokke was, sterk albei aan. Die ongeluk het omstreeks 22:50 op die hoek van Cradockstraat en Nelson Mandela-boulevard plaasgevind toe twee motors, 'n rooi Nissan en wit Hyundai, gebots het. Die twee leerders was nie in dieselfde voertuig nie.
George Herald het vandeesweek verneem dat buiten die 18-jarige Arno Boltman waaroor daar verlede week berig is, nog 'n leerder, Marchell Barnard (18), ook ernstig tydens die ongeluk beseer is.
Volgens Marchell se ma, Elmaré, het haar kind ernstige rugbeserings opgedoen, lelike beserings en snye aan haar gesig en kneusplekke oor haar hele liggaam.
"Sy het permanente rugbeserings opgedoen en is in soveel pyn sy kan nie nou loop nie. Sy het gelukkig nie die gebruik van haar bene verloor nie, maar sy is in onbeskryflike pyn en sal moontlik van voor af moet leer loop. Sy sal beslis nie haar matriekeksamen kan skryf nie, haar lewe is onherroepelik verander, maar sy veg dapper," sê haar ma.
Marchell Barnard, wat ook in die motorongeluk betrokke was.
Marchell is reeds uit die Mediclinic George ontslaan en sterk tans by die huis aan.
Elmaré sê dit blyk volgens 'n ooggetuie met wie hulle gepraat het, dat die bestuurder van 'n rooi Nissan roekeloos bestuur het, 'n rooi verkeerslig verontagsaam het en in die meisies se wit Hyundai vasgejaag het.
'n Ander ooggetuie het aan George Herald gesê hoewel die bestuurder van die Nissan heel moontlik die spoedgrens oorskry het, die verkeerslig vir hulle groen was en dat die Hyundai voor die Nissan ingedraai het, waarna die Nissan die Hyundai aan sy passasierskant getref het.
Die ander beseerde leerder van Hoërskool Outeniqua, Arno Boltman (18), sterk steeds in die Groote Schuur-hospitaal in die Kaap aan. Arno is van George na Groote Schuur oorgeplaas vir 'n operasie nadat hy 'n ernstige kopbesering tydens die ongeluk opgedoen het.
LEES MEER: Leerder sterk aan in Groote Schuur
Hy het die Sondagaand ná die ongeluk vir die eerste keer reaksie getoon toe sy ma sy hand gedruk het. "Hy is wakker, maar hy is nog baie deurmekaar en kan byna niks van die ongeluk onthou nie," sê sy ma, Elsabé.
Arno Boltman is 'n matriekleerder aan Hoërskool Outeniqua.
Hy is nog in die hoësorgeenheid en sy ouers sal hom weens Covid-19, vir nog sowat 'n week nie kan sien nie. Hulle het intussen na George teruggekeer en hoop dat hy binnekort hierheen oorgeplaas sal word.
LEES MEER: Arno reacts to Mom's touch
Volgens Pojie word die oorsaak van die ongeluk nog ondersoek en vorm kringtelevisiebeeldmateriaal wat bekom is, deel van die ondersoek.
Hy sê voorlopige inligting dui daarop dat twee voertuie, 'n rooi Nissan Sentra met 'n onbekende getal jong manlike insittendes, en 'n wit Hyundai-voertuig met vier meisies in, gebots het. Geen verdere inligting is in hierdie stadium beskikbaar nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'