Update
GEORGE NUUS - Die matriekleerder van Hoërskool Outeniqua, Arno Boltman (18), wat verlede Vrydagaand, 29 Oktober omstreeks 22:50 in 'n ernstige motorongeluk in die middedorp betrokke was, sterk tans aan in die Groote Schuur-hospitaal in die Kaap.
"Hy is wakker en het sy oë oopgemaak. Ons het vir hom al die pragtige stemboodskappe wat almal gestuur het laat luister," het sy ma, Elsabé, Dinsdagmiddag gesê.
Arno het 'n stemboodskap uit die hospitaal aan al sy ondersteuners gestuur waarin hy hulle bedank. "Hallo aan almal wat vir my boodskappe gestuur het. Ek is nog honderd. Ek is nog fine. Ek is gou weer hier uit, julle weet mos ek is 'n vegter. Ek is lief vir julle almal ook," lui die stemboodskap.
LEES MEER: Arno reacts to Mom's touch
Hy is in die hoësorgeenheid van die hospitaal geplaas en sy ouers gaan hom vir die volgende twee weke nie kan besoek nie omdat hy Covid-positief getoets het.
"Ons sal hom nie vir die volgende 14 dae kan sien nie. Hy is nog deurmekaar, maar hy is 'n yster en hy sal volkome herstel. Ons spreek dit uit en ons glo dit," het sy ma gesê.
Arno het die Sondagaand ná die ongeluk vir die eerste keer reaksie getoon toe sy ma sy hand gedruk het. Dit was ook die eerste keer dat iemand hom kon besoek.
Hy is van George na Groote Schuur oorgeplaas vir 'n operasie nadat hy Vrydag-aand 'n kopbesering in die motorongeluk opgedoen het.
LEES MEER: Family of injured boy waiting for news from doctors
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, is daar nog nie duidelikheid oor die presiese oorsaak van die ongeluk nie. Daar word ook steeds op die bloed-alkoholtoetse se uitslae gewag.
"'n Saak van roekelose en/of nalatige bestuur is geopen ná 'n ongeluk op die hoek van Nelson Mandela-boulevard en Cradockstraat omstreeks 22:50 op Vrydag 29 Oktober," het Spies by navraag gesê.
Spies sê die voorlopige inligting wat beskikbaar is, dui daarop dat twee voertuie, 'n rooi Nissan Skyline met 'n onbekende getal jong manlike insittendes, en 'n wit Hyundai-voertuig met drie meisies in, gebots het.
Twee van die seuns, waarvan Arno een is, is beseer en per ambulans na die hospitaal geneem. Die ander seun is reeds ontslaan en nie een van die ander kinders het ernstige beserings opgedoen nie.
Daar is intussen 'n fondsinsamelings-veldtog op backabuddy begin. Volg die skakel na die bacakabuddy-blad, www.backabuddy.co.za/arno-boltman, om by te dra tot die betaling van Arno se mediese onkoste.
Arno Boltman is 'n matriekleerder aan Hoërskool Outeniqua.
VORIGE ARTIKELS:
'Ons bring jou die nutste George, Tuinroete nuus'