Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Grondbesetters van Moeggehuur in New Dawn Park sal nog moet wag vir krag in hul plakkerskamp, want die grond wat hulle beset behoort nog nie aan die munisipaliteit nie.
'n Groep van sowat 50 plakkers het verlede Donderdag voor die George-munisipaliteit se ingang saamgedrom en hul ontevredenheid gedeel.
Die protesaksie het die oggend tydens die raad se sitting plaasgevind.
Benewens hul behoefte aan krag en beter beligting in die area, is die plakkers ook vies oor die behandeling wat die verkeershoof, Donovan Saptoe, glo ontvang.
Theresa Fortuin, 'n gemeenskapsleier, het aan die George Herald gesê die Moeggehuurders ondersteun Saptoe, want hy het hulle te woord gestaan met hul stryd om grond.
Munisipale direkteur van menslike nedersettings, Charles Lubbe (links), het die mense te woord gestaan en verduidelik dat die munisipaliteit tans wag vir oordrag van die grond.
Hulp met dienste
Regter Lee Bozalek van die Kaapse hooggeregshof het in September aanbeveel dat die owerhede moet saamwerk en die inwoners van Moeggeploeg help met behuising en dienste. Die grondeienaars, die provinsiale departemente van onderwys, vervoer en openbare werke, se aansoek om 'n uitsettingsbevel is nie toegestaan nie.
Die groep van Moeggehuur beweer dat hul veiligheid in gedrang is omdat die area swak belig is. Hulle vra ook vir die voorsiening van elektrisiteit na hul individuele plakkershutte.
Moeggehuurders is ook vies oor die behandeling wat die verkeershoof, Donovan Saptoe, glo ontvang nadat hy as fluitjieblaser opgetree het.
Die direkteur van menslike nedersettings, Charles Lubbe, het aan die groep verduidelik dat openbare werke onderneem het om die grond aan George-munisipaliteit te gee en dat die oordragproses nog nie voltooi is nie. "Ons kan nie elektrifisering doen as die grond nog nie aan die munisipaliteit behoort nie," het Lubbe gesê.
Amptenare van elektrotegniese dienste en menslike nedersettings het verlede Vrydag met die bestuur van Moeggehuur vergader om die kwessies te bespreek. Munisipale kommunikasiebeampte, Debra Sauer, het by navraag bevestig dat die voorsiening van hoëmasligte as 'n tussentydse maatreël ondersoek word. Die voorlopige beplanning vir die uitleg van die besette gebied is ook al in 'n gevorderde stadium.
Fortuin het gesê die gemeenskap voel immers nou ingelig oor wat aangaan. "Ons wil nie noodwendig 'n lawaai maak nie, maar dit maak 'n mens opstandig as niemand met ons wil praat nie."
Sauer het by navraag gesê ofskoon die oordrag van grond 'n tydsame proses is, is daar onderneem om die saak te bespoedig om stabiliteit in die betrokke gemeenskap te bewerkstellig. Volgens Fortuin het grondbesetters die amptenary versoek om hulp van die Wes-Kaapse ministers Tertuis Simmers en Bonginkosi Madikizela (die huidige en vorige ministers van menslike nedersettings) in te win om die proses te versnel.
Kyk 'n video hieronder.
'n Polisiebeampte probeer die vrede bewaar nadat 'n groep ontevrede grondbesetters van New Dawn Park verlede Donderdag voor die ingang van die George-munisipaliteit vergader.
* Land invaders from Moeggehuur in New Dawn Park will have to wait for electricity in their squatter camp, as the land they occupy does not yet belong to the municipality. A group of about 50 squatters gathered in front of the entrance to George Municipality last Thursday to voice their grievances.
Lees 'n vorige artikel: Moeggehuur soek dienste
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'