Update
GEORGE NUUS - Dit gaan aansienlik beter met Jana Human (8) wat in September 2021 met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer is.
Jana is 'n gr. 2-leerder by George Voorbereidingskool en het juis Saterdag 27 Augustus die agterhoede as doelwagter vir die skool se o.8 B-hokkiespan gevul.
Die span het teen Milkwood Primêr en Holy Cross gespeel. Dit was haar tweede hokkiewedstryd in die huidige seisoen.
Jana is Oewerstraat se bekendste inwoner en met haar dapperheid en vriendelike geaardheid, het sy reeds diep in mense se harte gekruip.
Sy moes verlede jaar vir tye Kaapstad toe gaan vir behandeling. Haar ma, Petru, het saamgegaan. Hulle het by haar oupa tuisgegaan terwyl sy chemoterapie by die Rooikruis-kinderhospitaal ontvang het. Haar pa, Jaco en haar twee sussies, Nita en Ankia, het in George agtergebly.
Sy was in Desember vir 'n paar weke tuis en het in dié tyd voortgegaan met behandeling. In Maart is sy en haar ma weer Kaap toe vir verdere behandeling. Hulle het in Mei teruggekeer.
Petru het Maandag 29 Augustus aan George Herald gesê Jana is aan die begin van die derde kwartaal weer terug skool toe.
Voordat sy terug skool toe is, het sy huiswerk gekry om te doen. Sy het daarop aangedring om op daardie dae haar skoolklere by die huis aan te trek.
Na deeglike oorweging is daar later besluit dat sy aan sport kan deelneem. "Jana is mal oor hokkie. Sy kan nie wag vir hokkieoefeninge nie. Sy blom."
Volgens Petru ontvang sy steeds behandeling en gaan een keer per maand daarvoor na Life Bay View-hospitaal in Mosselbaai.
"Dit gaan goed met Jana. Daar is dae wat sy nie 100% voel nie, maar dit is die minderheid."
Sy ry ook graag fiets. "Die sport doen haar goed. Dit laat haar weer kind wees."'
Dit help ook dat sy tuis by haar familie en tussen haar maatjies is.
Jana Human Saterdag in aksie op die hokkieveld.
Vorige artikels:
- Leukemie-Pasiëntjie weer tuis
- Paashase verras Jana in die Kaap
- Jana in Kaap vir behandeling
- Ysterperde brul vir Jana
- Jana is Kersfees by die huis
- Spesiale geleentheid vir Jana in Oewerstraat
- Hardloop vir goeie doel
- Oewerstraat se liggies weer aan
- 7 Jarige veg teen leukemie
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'