Update
GEORGE NUUS - 'n Spesiale geleentheid wat Donderdag-aand, 23 Desember, in Oewerstraat, Denneoord vir dié straat se geliefde jong inwoner, Jana Human (7) gehou sou word, is uitgestel tot vroeg in Januarie. 'n Finale datum sal later bekendgemaak word.
Jana het leukemie en ontvang op die oomblik behandeling by die Rooikruis-kinderhospitaal in die Kaap.
Oewerstraat se beroemde Kersliggies is vanjaar aan Jana opgedra.
As gevolg van die Covid-19-situasie was daar nie verlede jaar liggies nie, maar is dit vanjaar op 11 Desember weer formeel aangeskakel. Die liggies is gewoonlik gedurende Desember/Januarie 'n baie gewilde besoekplek.
Lisa Swanepoel, die eienaar van Coffee Bistro, die organiseerder van die geleentheid, het Dinsdag gesê ongelukkig moes die geleentheid weens logistieke redes uitgestel word, maar dit sal beslis in Januarie voortgaan.
Koffie en warm sjokolade met malvalekkers sou by Swanepoel se Tuk-Tuk voor Oewerstraat 15 verkoop word. 'n Deel van die opbrengs sal geskenk word om te help met goedjies wat Jana nodig het.
Donasies en briefies kan elke aand in die posbus van Oewerstraat 8 geplaas word. Foto: Lizette da Silva
Swanepoel het gesê kinders is steeds Donderdagaand welkom om "beter word" prentjies en kaartjies vir Jana in 'n spesiale boks te kom gooi. Hulle kan ook donasies maak.
"Kom ons wys vir Jana sy is nie alleen nie en dat ons aan haar dink en saam met haar bid vir genesing."
Swanepoel het die idee gekry toe sy en haar man, Johan, onlangs saam met hulle kinders in die straat na die liggies gaan kyk het. Sy het daarna op Georgiete Staan Saam, gevra hoe mens dankie kan sê vir die mense van Oewerstraat.
Daar was oorweldigende reaksie. In een van die plasings het iemand daarop gewys dat die liggies vanjaar vir Jana is.
Swanepoel het ook 'n relevante artikel in George Herald gesien en die bal is aan die rol gesit. Sy het onder meer met Jana se ma kontak gemaak.
Lisa en Johan Swanepoel saam met hul kinders.
'n Inwoner van Oewerstraat, wat betrokke is by die reëlings vir die liggies, Colette Rossouw, het gesê donasies en briefies kan elke aand in die posbus van Oewerstraat 8 geplaas word. Hulle sal sorg dat dit by Jana uitkom.
LEES MEER: 7-jarige veg teen leukemie
Tot dusver was die reaksie oorweldigend. Hulle het al reeds 'n teddiebeer, verskeie briefies en kontant ontvang. Mense is welkom om na die liggies te kom kyk.
"Dis vir ons aangenaam om al die kinderlaggies te hoor. Dis ook vir ons baie spesiaal om iets vir Jana te doen."
Dis 'n skouspel van Kersliggies in Oewerstraat. Die liggies brand van 19:30 tot 22:30. Foto: Lizette da Silva
LEES MEER: Oewerstraat se liggies weer aan
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'