GEORGE NUUS - Ysterperde het Saterdagmiddag, 5 Februarie, in Oewerstraat, Denneoord gebrul waar 'n spesiale geleentheid vir Jana Human (7) gehou is. Guns & Roses-motor-fietsklub was die gasheer van die donasierit wat ook deur ander motorfietsklubs in die SWD bygewoon is.
Jana, 'n inwoner van die straat, is in September 2021 met akute limfoblastiese leukemie (ALL) B-tipe gediagnoseer.
Altesaam 49 motorfietse en vyf motors het deelgeneem. Jana se ouers Jaco en Petru is deur die klub genooi om saam te ry. Briefies van kinders is ook aan Jana gegee.
Volgens Denise Human, Jana se ouma, is hulle baie dankbaar vir die motorfietsryers en almal wat aan die geleentheid deelgeneem het.
'n Spesiale groot dankie moet ook aan Danielle van Loggerenberg gaan. Sy het haar eie teddiebeer vir Jana gegee as bemoediging. Hierdie teddie het nou 'n spesiale plek op Jana se bed.
"Sulke gebare van kinders laat mens besef dat hulle die groter prentjie van omgee baie beter sien as ons."
Van die motorfiestryers en ander belanghebbendes wat aan Saterdag se geleentheid deelgeneem het.
Denise het gesê die geleentheid het baie vir Jana beteken en dit gaan op die oomblik onder omstandighede goed met haar. Sy gaan aan die begin van Maart weer terug na die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad en sal vir twee tot vier maande daar deurbring om haar volgende sessie van intense chemo te ontvang.
Human het gesê tydens haar 10 weke verblyf in George het sy voortgegaan met daaglikse mondelingse chemo, ondersteunende chemo per drip, bloedtoetse en lumbale punksies by Life Bay View-hospitaal. Ongelukkig kan die volgende sessie chemo nie hier gedoen word nie.
Van die motorfiestryers wat aan Saterdag se geleentheid in Oewerstraat deelgeneem het.
Jana en haar ma moet tydens hul verblyf in die Kaap altyd soggens om 05:30 die huis verlaat en na die hospitaal gaan. Dit is dan koud en nat.
"Jana het 'n behoefte gesien. Daar is baie kinders wat van publieke vervoer gebruik moet maak en soms nat en koud om 08:00 by die hospital vir behandeling opdaag. Sy wil graag 'n projek 'Jana's winter woolies' begin om aan die kinders 'n kombersie, serp en handskoene te kan gee vir die winter.
Hiervoor het sy hulp nodig in die vorm van wol en fleece afvalmateriaal.
"Sy sal ook persone wat brei en hekel nodig hê om haar projek te laat slaag. Ek sal help met die naaldwerk van die materiaal," het Denise gesê.
Mense wat deel wil wees van die projek kan Petru by 082 408 9037 of Denise 071 1914 355 kontak. Of stuur 'n e-pos na jana4cancer@gmail.com vir meer besonderhede.
Paul Gerber, organiseerder van die geleentheid, het Dinsdag gesê 'n goeie bedrag geld is ingesamel. "Dit was 'n groot sukses." Benewens die motorfietsryers het die VW Beetle-klub ook deelgeneem.
Die motorfiestryers en ander belanghebbendes wat aan Saterdag se geleentheid deelgeneem het.
'n Plakkaat van die donasierit.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'