Update
GEORGE NUUS - "Onder omstandighede gaan dit goed met Jana." Só het Denise Human, Jana Human se ouma Dinsdag, 8 Maart gesê.
Jana, wat saam met haar ouers in Oewerstraat woon, is verlede jaar in September met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer.
Sy is sedertdien in die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad behandel. In Desember het sy en haar ma, Petru, vir 'n paar weke huis toe gekom en die afgelope Sondag het hulle weer na Kaapstad teruggekeer vir verdere behandeling.
Tydens haar tien weke verblyf in George het sy voortgegaan met daaglikse mondelingse chemo, ondersteunende chemo per drip, bloedtoetse en lumbale punksies by Life Bay View-hospitaal.
Die volgende sessie chemo kon nie hier gedoen word nie en daarom moes sy terugkeer Kaapstad toe.
Jana het Maandag weer haar eerste chemo-behandeling ontvang en sal na verwagting drie maande in Kaapstad moet bly.
"As alles goed gaan en haar beenmurgtoetse wys die kanker is in remissie sal sy daarna vir 'n rukkie na George kan terugkeer. Jana is baie positief. Dit help en het 'n groot invloed op haar," het Denise gesê.
Haar familie, pa Jaco, ma Petru en twee sussies, Nita en Ankia en oumas en oupas, is ook vol moed.
"Ons is almal vol moed. Almal se ondersteuning en hulp help dat dit goed gaan. Ons is baie dankbaar daarvoor."
Jana het tydens haar tydjie in George met 'n nuwe projek begin.
Tydens haar verblyf in die Kaap het sy gesien daar is baie kinders wat van publieke vervoer gebruik moet maak en soms nat en koud om 08:00 by die hospitaal vir behandeling opdaag.
Sy het toe later die projek 'Jana's winter woolies' begin om aan die kinders 'n kombersie, serp en handskoene te gee vir die winter.
Volgens Denise het Jana reeds baie bydraes ontvang en die plan is om dit aan die kinders op 15 April te gee wanneer sy verjaar.
Sy word dan agt jaar oud. Mense kan steeds hulp vir die projek gee in die vorm van wol en fleece-afvalmateriaal.
Mense wat deel wil wees van die projek kan Petru by 082 408 9037 of Denise 071 1914 355 kontak. Of stuur 'n e-pos na jana4cancer@gmail.com vir meer besonderhede.
Jana Human.
Vorige artikels:
- Ysterperde brul vir Jana
- Jana is Kersfees by die huis
- Spesiale geleentheid vir Jana in Oewerstraat
- Hardloop vir goeie doel
- Oewerstraat se liggies weer aan
- 7 Jarige veg teen leukemie
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'