Update
GEORGE NUUS - Lede van die gemeenskap van Pacaltsdorp en Hansmoeskraal het op Donderdag 17 Augustus 'n petisie met meer as 1 000 handtekeninge aan George-burgemeester, Leon van Wyk, oorhandig waarin hulle aandring op die teer van die pad tussen Pacaltsdorp en Gwaiingriviermond.
Dit volg op 'n gemeenskapsver-gadering wat in Julie in die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal gehou is waar die petisie-aksie afgeskop het.
Inwoners van hierdie gebied rig al vir jare pleidooie aan die munisipaliteit vir die opgradering van die pad waar die verkeer baie toegeneem het, onder meer weens die ontwikkeling van die Le Grand-landgoed.
Die teer van die pad was 'n voorwaarde vir die oorspronklike gholflandgoed-ontwikkelingsvoorstel op Le Grand, maar die eertydse ontwikkelaar is gelikwideer.
Le Grand het sedertdien enkele kere van eienaar verwissel, maar volgens die George-munisipaliteit geld die voorwaarde steeds en is die huidige ontwikkelaar verantwoordelik vir die teer van die pad, maar eers tydens fase 2 van die ontwikkeling.
Lauren Waring, direkteur van menslike nedersettings, beplanning en ontwikkeling, het gesê die burgemeester het herbevestig dat die munisipaliteit nie die konstruksie van die pad self sal hanteer of finansier nie, aangesien dit direk gekoppel is aan 'n privaat ontwikkeling en ook 'n spesifieke voorwaarde is vir die goedkeuring van Le Grand fase 2.
Hierdie fase is vir baie jare vertraag weens probleme wat deur die oorspronklike ontwikkelaar ondervind is.
"Die huidige ontwikkelaar is die enigste een wat tydlyne kan verskaf vir fase 2 van die Le Grand-ontwikkeling. Dit sal hopelik tydens ons skakeling met die ontwikkelaar bespreek word. Die burgemeester het sy bereidheid te kenne gegee om, indien nodig, weer met die groep te vergader."
In Julie vanjaar het 'n woordvoerder van Le Grand, Johan Gouws, aan George Herald gesê die ontwikkelaar is nie tans, tydens fase 1 van die ontwikkeling, verplig om die pad te bou nie, maar hulle beoog om dit wel te doen aangesien toekomstige fases vertraag word.
Ná die oorhandiging van die petisie verlede week het Gouws gesê die ontwikkelaar probeer met die stadsraad vergader, maar die proses is traag. "Die ontwikkelaar sal wel voortgaan om te probeer om 'n oplossing te vind en ons verwelkom die burgermeester se aanbod vir 'n ontmoeting."
Die petisie lui dat inwoners nou sekerheid soek oor wanneer die opgradering begin en voltooi sal word. Die George-munisipaliteit se pogings om die pad te onderhou is oneffektief en nadat onderhoud gedoen is, is dit binne enkele dae weer amper onbegaanbaar.
Dis die enigste toegangsroete tussen Hansmoeskraal en George en Pacalts-dorpers reis daarlangs na die strand en hul werkplekke in Hansmoeskraal.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’